Onteiening sonder vergoeding is ’n konsep wat aan ’n vervloë era van koue oorlog en kommunisme behoort en die ANC moet daarvan afsien sodat Suid-Afrika op die herstelpad kan kom.
Die regering se beheptheid met dié konsep is die oorsaak van massiewe disinvestering, die gebrek aan groei en mededingendheid, werksverlies, die inploffing van die Landbank en ekonomiese verval.
Die Landbank se totale boek bestaan uit landbou, waarvan die finansiering op grondbesit as sekuriteit berus. Dreigemente om grond sonder vergoeding te onteien het ernstige negatiewe gevolge vir elke boer en handelsbank, maar vir die Landbank het dit die voortbestaan van die bank in gedrang gebring.
Die ANC moes lankal uit die reaksie van Suid-Afrika se handelsvennote, die Europese Unie (EU), die Verenigde Nasies (VN) en ander multilaterale internasionale instellings afgelei het dat sy verbintenis tot onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika weer tot muishondstatus sal verdoem, soortgelyk aan Zimbabwe en Venezuela. Niemand belê in ’n land waar beleggers die risiko loop om sonder vergoeding onteien te word nie.
Nêrens het onteiening sonder vergoeding óf teen minder as markwaardevergoeding in gedwonge transaksies ’n goeie uitkoms gehad nie. Die wêreld verstaan nie dat ’n idee wat oral waar dit ingestel is net tot ekonomiese verval, verdriet en lyding gelei het, onder die ANC (met sy jammerlike baanrekord van mislukte instellings) nie anders sou verloop nie.
Die blote feit dat die ANC die sakesektor, werkgewers, belastingbetalers en beleggers se hoofsaaklik skriftelike insette in die openbarekonsultasieproses met ’n slenter uit die weg moes ruim sodat daar staatgemaak moet word op onsamehangende mondelingse insette van mense wat na ontoeganklike plekke aangery is, moes al ’n aanduiding wees dat niks goeds uit dié idee kan voortspruit nie.
Toe die ANC deur Sakeliga gedwing is om die wetenskaplike impakstudie openbaar te maak en hulle uitgevang is dat hulle dit met flagrante onwaarhede bekook het, het die wêreld al besef dat daar geen integriteit of substansie agter hulle blinde dryf na ’n gediskrediteerde beleid sit nie.
Saai werk elke dag met wit én swart familieboere wat ly onder die kleinlike binnepolitiek in die ANC wat tot die mosie oor onteiening sonder vergoeding aanleiding gegee het.
Die ANC gaan duidelik ook nie die vereiste meerderheid in die parlement kry om die Grondwet te verander nie. Die ontsaglike prys wat Suid-Afrika vir ’n swak idee betaal het, was nie die moeite werd nie.
In die belang van Suid-Afrika en sy mense moet die ANC sy flater erken, daarvan wegstap en moeite doen om sowel plaaslike as internasionale entrepreneurs te oortuig dat dit veilig is om hier te belê.