fbpx

FAQ

Saai is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat fokus op die behoud van familieboere en wat optree om hul toekoms op hul plase te verseker.

GEWILDE VRAE OOR SAAI

Saai is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat gestig is vír boere déúr boere, wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder.

’n Familieboer is nie oud of jonk, groot of klein, wit of swart, ryk of arm nie. ’n Familieboer is ’n lid of lede van ’n familie (insluitende persone wat deur dié familie in diens geneem is) wat ’n landbou-onderneming besit of bestuur.

In 2019 is die Dekade van Familieboerdery deur die Verenigde Nasies van stapel gestuur omdat dié organisasie en sy filiale besef het dat familieboerderye die beste vermoë het om bedreigings soos verstedeliking, hongersnood, werkloosheid en klimaatverandering hok te slaan.

Saai ondersteun familieboerderygemeenskappe wanneer hul belange bedreig word. Rampe, die ineenstorting van markte of insetfinansiering, beleidsaspekte soos onteiening sonder vergoeding of geadministreerde kostes, swak dienslewering en ongunstige wetgewing kan veroorsaak dat families van hul plase gedwing word. Hoe beter familieboere georganiseerd is en hoe meer lede daarvoor saamspan, hoe sterker is Saai se vermoë om aan familieboere beskerming te bied.

Familieboere, hul werkers, vriende en familie van plaasgesinne en mense wat invoelend is met die saak van familieboere is welkom om by Saai aan te sluit. Besoek Saai se webblad by www.saai.org.

Saai funksioneer as ’n netwerk van familieboere en ondersteunende organisasies. Dit gaan oor meer as net beleidsbeïnvloeding, maar sluit ook projekte, veldtogte en gefokusde aksies in wat verseker dat familieboere in die hoofstroom van die plattelandse ekonomieë bly. Saai span die nuutste digitale en datagedrewe tegnologie in om te verseker dat al ons aksies en strukture op die voorpunt van modernisering bly.