Ramphulp: waarom die staat uitgelaat word

Share on linkedin
Share on twitter
Share on facebook
Share on telegram
Share on whatsapp
Share on email

Die tekorte aan basiese voorrade soos kos, medisyne, babamelk en ander lewensmiddele in die onrusgeteisterde dele van KwaZulu-Natal het, soos soveel keer die afgelope twee jaar, weer burgerlike strukture gemobiliseer om die staat se verantwoordelikheid ten opsigte van ramphulp oor te neem. Terwyl die staat komitees saamstel en met gewillige organisasies vergaderings hou om ramphulp te beplan, skuif duisende tonne voorraad reeds elke dag buite die raamwerk van die staat op vragmotors, per vliegtuig en op bakkies om die nood in dorpe en stede te verlig. Privaat sekuriteit begelei konvooie waar die SAPD en die weermag dit nie regkry nie.

Ramphulp is ’n meer algemene behoefte in die landbou-omgewing, maar ’n luuksheid. Afgesien van beperkte bydraes van die Wes-Kaapse Provinsiale Regering is daar bitter min statutêre hulp vir boere wat weens brande, onrus, droogte of vloede ondergaan. Boere het meer ervaring in die organisering van privaat ramphulp, en solank die ANC nog aan bewind is, sal hulle en hul plattelandse gemeenskappe self vir hulp aan geteisterde gebiede voorsiening moet maak. Hierdie selfvoorsienendheid buite die strukture, begrotings, reikwydte en invloed van die staat is in omvang en doeltreffendheid redelik uniek in die wêreld, en sowel die georganiseerde landbou as buitelandse regerings vind dit fassinerend.

Berigte oor hoe ramphulp in die vorm van veevoer en kospakkies groot dele van die Karoo en Klein-Karoo aan die gang gehou het deur agt jaar van die ergste droogte in menseheugenis, is oor die hele wêreld gelees. Toe kom die polities aangestigde brande in Oktober 2020 in die Noordwes-Vrystaat en laat honderdduisend hektaar in puin, maar dieselfde groep organisasies wat droogtehulp koördineer, het in enkele weke genoeg veevoer, omheiningsmateriaal en kospakkies afgelewer om die hele gebied te laat oorleef. Selfs die vee is vervang.

Die irrasionele COVID-19-regulasies wat in April 2020 ingestel is, het honderdduisende werkgeleenthede vernietig en gesinne sonder inkomste of kos gelaat. Boere het besef dat hulle weinig kan doen om die verdoemende impak op die ekonomie te buffer, maar het kos soos groente, vrugte en vleis in landelike gebiede gaan aflewer waar die staat nooit uitgekom het nie. Daardie ramphulp het tot diep in die stedelike gebiede ’n verskil gemaak, dermate dat Panyaza Lesufi van die ANC in Gauteng probeer het om dit te nasionaliseer en te sentraliseer. Die boere het eenvoudig geweier, want die vertroue in die staat ontbreek.

Die Minister van Landbou, Thoko Didiza, het aanvanklik saam met enkele landbou-organisasies ’n aantal komitees gestig om die impak van COVID-19-regulasies op die landbousektor te koördineer, maar die aankondiging daarvan was die laaste wat die publiek daarvan gehoor het. Met die onluste in KwaZulu-Natal is dieselfde landbou-organisasies weer betrek, kompleet met aankondigings in die media. Daar is drie goeie redes waarom die veel groter ramphulpbeweging wat buite die staat funksioneer, nie daarby betrek word of wil wees nie.

Die mees voor die hand liggende rede is die korrupsie, selfverryking en ondoeltreffendheid wat saam met die pakkie kom wanneer die staat jou vennoot word. Die videomateriaal van amptenare wat COVID-19-voedselhulppakkies by hulle huise laat aflaai of verkoop in plaas daarvan om dit by honger gesinne te besorg, domineer enige internetsoektog na die staat se ramphulp. Die skaamtelose gebrek aan enige gevolge skrik boere en sakelui af wat dit andersins sou oorweeg om bydraes te lewer. Die staat het nog nie met ’n gevallestudie vorendag gekom waar skenkings sonder nepotisme, korrupsie of rompslomp by die bedoelde behoeftige gesinne uitgekom het nie.

’n Veel belangriker rede waarom die meer effektiewe rolspelers in ramphulp nie met die staat kan saamwerk nie, is ideologies van aard. Dit gaan oor die ANC se fundamentele verbintenis tot rassekriteria by ramphulp. Die aggressie en skuim-om-die-mond oortuiging waarmee die staat sy onwrikbare beleid om COVID-19-ramphulp in die toerismebedryf tot swart entrepreneurs te beperk, aan die hof verduidelik het, het hom vervreem van die deel van Suid-Afrika wat ’n nierassige ideaal koester. Boere en sakelui sal nie die staat in sy kwaad sterk nie, en selfs lede van die landbou-organisasies wat met die staat saamwerk, neem hul bydraes na alternatiewe ramphulpstrukture soos die Manna vir die Boere-groep, die Solidariteitfonds of Solidariteit Helpende Hand.

’n Derde rede waarom so min organisasies bereid is om vir ramphulp met die staat hande te vat, gaan oor die internasionalisering daarvan. Veel meer as net die sosiale media wat intyds beelde van die omvang en diepte van die nood belig, het die wêreld se grootste nuusagentskappe lankal die morele mat onder die ANC uitgetrek. Vir buitelandse regerings maak dit nie saak wat die uitslag van ’n hofgeding oor swart ekonomiese bemagtiging, kaderontplooiing of rasgebaseerde kwotas is nie, hulle vind dit immoreel. Apartheid was ook wettig, maar die wêreld het dit uitgespoeg. Meer en meer ontwikkelingshulp, donateursfondse, beurse en ander hulpbronne vloei deesdae deur alternatiewe kanale na Suid-Afrikaners omdat die wêreld teen die regering kant gekies het. Dit is daarom juis organisasies met mindere internasionale blootstelling wat met die staat in ’n ramphulpvennootskap sal gaan.

KONTAK ONS

PLATFORMS

Teken In

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.