Die besluit van minister Thoko Didiza om meer as 700 000 ha se plase wat sedert 1994 reeds in staatsbesit is aan begunstigdes van grondhervorming oor te dra, is een van die wysste besluite wat haar departement nóg geneem is. Die familieboerorganisasie Saai verwelkom dié besluit, wat talle van sy swart familieboerderylede raak. Die departement moes dié besluit egter reeds 20 jaar gelede geneem het.

In Mpumalanga, Oos-Kaap en Limpopo was heelwat van Saai-lede onder beleg van die departement se pogings om grond – waarop sommige van dié lede al ’n dekade of langer boer – aan derde partye te verhuur. In die Oos-Kaap het die afsetting van suksesvolle swart boere ten gunste van goed verbonde ANC-kaders hoofopskrifte gehaal. Saai het regshulp aan dié lede verleen om hulle teen korrupte amptenare te beskerm.

Soortgelyke afsettings het menige swart familieboer in Mpumalanga in die gesig gestaar. Saai was gereed om die belange van dié lede in die howe te gaan verdedig toe die minister haar aankondiging maak. Die erkenning dat die departement se inligting oor die plase en die bestuur daarvan uiters gebrekkig is, is die regte beginpunt om die chaos in haar departement reg te ruk. Korrupte amptenare het van sommige boere verwag om omkoopgeld te betaal om verblyfregsekerheid te kry.

Swart boere in Suid-Afrika se grootste uitdaging is om toegang tot finansiering te kry. Die staat het sedert 2007 reeds nie meer titelaktes aan begunstigdes in die herverdelingsprogram oorgedra nie. Pleks daarvan is aangekoopte plase as staatsgrond aan swart boere verhuur. Hierdie sagte vorm van nasionalisering het boere verhoed om dié plase as sekuriteit aan banke aan te bied en hulle kon dus nie toegang tot finansiering kry nie.

Landbank se kredietafgradering en swak posisie in die mark vererger die krisis aansienlik. Honderde ontwikkelingsprojekte wat van Landbank afhanklik was, staan gevaar om skipbreuk te ly weens befondsingsprobleme. Die departement het herhaaldelik bewys dat die staat ’n swak alternatiewe insetfinansierder is en het meer swart boere in ernstige finansiële moeilikheid gedompel as wat hulle gehelp het.

Deur nou titelaktes aan hierdie swart familieboere te gee, word groter verantwoordelikheid, toegang tot finansiering en ’n kans op welvaartskepping bewerkstellig. Dit maak hulle minder afhanklik van staatskenkings en minder kwesbaar vir die korrupsie onder amptenare.

Saai glo dat die departement se wye negatiewe mediadekking oor die afgelope paar maande ’n groot rol in die minister se besluit gespeel het. Die verdoemende hofuitspraak in die Rakgase-saak in Limpopo – waarin die departement gedwing is om sy ondernemings gestand te doen en waaruit die afknou van swart boere duidelik blyk – asook die geval van Vuyani Zigana – wat ná 12 jaar van ’n staatsplaas afgeskop, sy beeste geskut en die plaas as ’n vyfde plaas aan ’n welvarende ANC-kader gegee is – het internasionaal opslae gemaak.

Saai skakel weekliks met buitelandse verteenwoordigers en landbou-unies. Daar word deurlopend gevra hoe die ANC-regering ’n rampspoedige grondwetwysiging wil deurvoer om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak terwyl die staat oor miljoene hektare se onbenutte of onderbenutte grond beskik. Dit is skreiend hoe min die departement weet van plase onder sy beheer en wat daarop aangaan. Dit plaas ernstige vraagtekens oor ander data en inligting wat die departement bestuur, maar veral oor die grondoudit wat hulle laat doen het. Die minister se openhartige erkenning hiervan is egter al ’n groot stap in die regte rigting.

Dreigemente van ’n radikale herverdeling van water berus op dieselfde – of selfs swakker – data en is, soos die grondkwessie, eerder ’n politieke speelbal as ’n ekonomieswetenskaplike oplossing.

Hoewel minister Didiza die land in haar vertroue geneem het met die erkenning van gebrekkige vermoë en bestuur in haar departement, moet sy ook eerlik wees oor die departement se vermoë om aan haar voorneme gestand te doen om die betrokke staatsplase aan swart boere oor te dra. Die grootste risiko vir begunstigdes is dat haar amptenare haar in die steek laat en dat oordragte nie gebeur nie. Saai en ’n aantal van ons netwerkvennote bied aan om haar daarmee van hulp te wees.