fbpx

Saai loop veediewe trompop

Die sabotasie van Ockert Goosen, ’n jong boer in Bray, se beesboerdery deur middel van diefstal en die vergiftiging van sy vee het Saai genoop om in te gryp om hom op sy plaas te hou en te verseker dat die reg toegepas word.

Die skrikbewind wat ’n vee- en wilddiefstalsindikaat in die Bray, Tosca omgewing en langs die Botswana-grens voer, is Saai en hul netwerkvennote op die gebied van landelike veiligheid en ramphulp ’n prioriteit.

Terwyl boere, afslaers en lede van die gemeenskap weet wie agter die sindikaat sit, het die polisie oor ’n dekade reeds gewys dat hulle geen vermoë, wil of legitimiteit het om teen die veediefstalmafia op te tree nie. Senior polisiebeamptes word van omkopery en samewerking met dié sindikaat verdink.

Die diefstal en vergiftiging van Goosen se beeste, wat wyd op sosiale media bespreek is, het die skrikbewind van die bende op die spits gedryf en Saai en sy netwerkvennote genoop om aksie te neem.

Verskeie opposisiepartye wat nie deur die bende omgekoop kan word nie, private sekuriteitsdienste wat nie deur ’n gekompromitteerde polisiekantoor aan bande gelê kan word nie, die private vervolgingsgesag en plaaslike- en buitelandse media is betrek by ‘n veldtog om die bende se aktiwiteite te stuit en hulle strafregtelik aanspreeklik te hou.

Saai samel ook geld in om die geaffekteerde jong boer by te staan om weer op sy voete te kom, want dit is ons erns om familieboere op hulle plase te hou.