fbpx

Saai loods digitale plaasnaambordprojek

’n Naambord op ’n hekpaal by die ingang van ’n familieplaas sal nooit weer dieselfde wees nie. Saai het onlangs sy plaasnaambordprojek van stapel gestuur waarin die nuutste tegnologie gebruik word om plase te beskerm.

Die ANC se 2017-besluit om die Grondwet te verander om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, het familieboere diep bekommerd gelaat. Vier jaar later is die besluit nog nie deurgevoer nie, maar beleggersonsekerheid, die uitvlug van kapitaal, werkverlies, kredietafgradering en die ineenstorting van die Landbank lê soos modderspore op ’n gepoleerde plaashuisvloer agter die ANC se populistiese grondbeleid.

Boere en ander grondeienaars het ook nie net gesit en toekyk nie. Oor die afgelope twee jaar het Saai by drie geleenthede in Rome, Berlyn en New York die sinneloosheid van die ANC se onteieningsbeleid aan die Verenigde Nasies en Europese Unie se besluitnemers verduidelik. Saai skakel ook weekliks met ambassades en buitelandse landbou-unies om seker te maak dat hulle die agenda daaragter begryp.

Saai en sy netwerkvennote het honderdduisende rande ingesamel vir ’n epiese stryd in die howe, wat heel waarskynlik ook deur internasionale beregtiging beslis sal word. Die gevegslinies is opgestel. Dit gaan nie so maklik wees om artikel 25(3) van die Grondwet te wysig nie.

’n Veel groter bedreiging teen eiendomsreg is eerder die informele, ongekoördineerde en onbeheerste grondgrype op voetsoolvlak, betredings, besettings, plakkery en vee wat in boere se landerye of weidings ingejaag word. Die rooi ligte begin veral flikker as die polisie niks daaraan doen nie, die owerheid sy kop wegdraai en die grondeienaar alleen in die konfrontasie staan.

Dit is presies hoe dit in Zimbabwe afgespeel het.

Saai is diep bekommerd oor die verskerpte voorkoms van grondbesettings in Noordwes, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, en die polisie se onvermoë of onwilligheid om daarteen op te tree. Buiten om ’n lawaai daaroor te maak en die wêreld se aandag deurlopend daarop te vestig, sal daar iets daadwerkliks gedoen moet word. Daar moet betyds en oor ’n baie breë front wal gegooi word. Enersyds sal privaat inisiatiewe die fondasies moet oorneem van owerhede wat versuim om eiendomsreg te beskerm, en aanvul waar die staat tekort skiet. Andersyds moet elke plattelandse grondeienaar sorg dat sy huis-en-haard-beskerming op die beste moontlike standaard is.

Dit is presies waarom Saai pas sy plaasnaambordprojek geloods het. Buiten dat Saai as familieboernetwerk baie sterk voel oor ’n familienaam langs ’n plaasnaam teen ’n hekpaal, het die netwerk ook moeite gedoen om die nuutste tegnologie aan te wend om plase nie net fisies nie maar ook op beleidsvlak ten opsigte van dienslewering teen onwettige besettings te beskerm. Vir dié doel word ’n betredingswaarskuwing  in verskillende tale (van die boer se keuse) en QR-kodes op elke bord aangebring. Wanneer dié QR-kodes met ’n slimfoon of -tablet ontsluit word, gee dit die boer toegang tot ’n verskeidenheid van funksies. Een voorbeeld is volledige regsadvies wat deur regslui opgestel is en aan die grondeienaar of enige ander belanghebbende leiding kan gee oor hoe om grondbesettings te hanteer.

’n Ander QR-kode gee jou toegang tot ’n klagtevorm wat digitaal opgestel, ingevul en ingedien kan word. Dit registreer outomaties ook by Saai, waar ons regspan dit gereeld sal opvolg om te verseker dat die polisie ’n saak oopmaak en iets daarom doen. Saai stoor dit ook namens die grondeienaar om ’n saak vir toekomstige regsaksies op te bou.

Enige familieboer kan dié plaasnaamborde by Saai se webtuiste by www.saai.org bestel.

Suksesvolle pogings om verswakkende staatsfunksies aan te vul en ongrondwetlike vergrype te stuit, verg goeie koördinasie deur groot groepe mense wat eenstemmig daartoe werk. Uit ervaring wat Saai en ons netwerkvennote oor die afgelope twee jaar opgebou het, weet ons dat dit die afsonderlike, klein pogings van groot getalle gewone, vredeliewende Suid-Afrikaners is wat gesamentlik die deurslaggewende gewig verleen om ’n nasionale impak te hê.

Vir dié doel wil Saai saam met sy netwerkvennote soveel as moontlik van hierdie liggewig maar duursame plaasnaamborde regoor die land oprig om ’n hou te slaan teen betredings, besettings en plakkery op plase. Saai het reeds ’n merkwaardige netwerk en regspan op die been gebring en glo dat ons vinnig en doeltreffend op klagtes kan reageer.

Laat ons die ruimtes in die reg maksimaal benut om eiendomsreg te beskerm, in sowel die kleine op grondvlak in jou omgewing en op jou plaas as op nasionale vlak, waar beleidmakers en besluitnemers verantwoordelik en aanspreeklik gehou moet word.