Die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboerorganisasie Saai het vandag tydens ’n mediakonferensie AfriForum se 2019-statistieke oor plaasaanvalle en ‑moorde bekendgestel en bespreek. Vanuit die data wat AfriForum oor dié kwessie ingesamel het, blyk dit dat plaasaanvalle verlede jaar met meer as 100 gevalle toegeneem het, maar die hoeveelheid plaasmoorde het ’n aansienlike laer toename gehad (drie gevalle).
Volgens Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis, was daar 552 plaasaanvalle in 2019 teenoor 2018 se 433 gevalle. Dit is ’n toename van 27%. “Byna 1 000 mense was slagoffers in hierdie 552 plaasaanvalle. In 2019 was daar 57 plaasmoorde, en hoewel elke plaasmoord ’n tragedie is, is dit slegs drie meer as in 2018. Die Vrystaat is die provinsie met die meeste getal moorde (11), terwyl 30% van die plaasaanvalle in Gauteng plaasgevind het.”
“AfriForum se data bewys dat landelike gemeenskappe besig is om terug te baklei en meer weerbaar te word. Dit is duidelik dat ons nie op die regering kan staatmaak om maatreëls in plek te stel om landelike gemeenskappe te beveilig nie, daarom is dit so belangrik dat mense weet hoe om hulself te beskerm. Die reusestyging in plaasaanvalle in 2019 wys dat die polisie nie die vermoë of kapasiteit het om geweldsmisdaad op plase te keer nie. Dít beteken dat jy in ’n gewelddadige plaasaanval heel moontlik op jouself aangewese gaan wees. AfriForum het vir hierdie doel 150 gemeenskapsveiligheidstrukture (met meer as 12 000 aktiewe veiligheidslede) landwyd op die been gebring wat saamwerk. AfriForum bied ook veiligheidsopleiding aan sy lede om hulle meer weerbaar te maak. As jy jouself kan verdedig, kan jy jou gesin verdedig; as jy jou gesin kan verdedig, kan jy jou bure verdedig; wanneer bure mekaar verdedig, verdedig hulle hul gemeenskap,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
Dit is vir die organisasies ook kommerwekkend dat die gevalle van verkragting tydens plaasaanvalle in 2019 toegeneem het. “Die polisie en politici maak gereeld uitsprake oor die krisis van geweldsmisdade teen vroue en kinders in die land; tog neem dit jaar na jaar toe. ’n Verantwoordelike, goed opgeleide en wetsgehoorsame vrou met ’n geweer op ’n plaas maak egter die speelveld gelyk teen enige verkragter, selfs al is hy dubbel so groot soos sy,” sê Cameron.
Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en ook die president van die Wêreldlandbou-organisasie, is daar ’n duidelike gebrek aan politieke wil om plaasaanvalle te bekamp. “Misdade teen familieboere is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar die aard van aanvalle en die aanhitsing tot geweld is wel iets wat ons onderskei.”
Volgens die Verenigde Nasies se voedselagentskappe is familieboere in die beste posisie om van die wêreld se grootste uitdagings – wat die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte geïdentifiseer is – die hoof te bied. Dit is waarom die Verenigde Nasies Resolusie 72/239 aanvaar het, wat daarop gemik is om ’n hernude politieke verbintenis tot die ondersteuning van familieboerderye te skep, asook beleide ten gunste van familieboerderye daar te stel.
“Binne dié konteks het Saai ’n resolusie opgestel om familieboerderye te beskerm en wat staatspartye oproep om misdade teen familieboere te beveg. Saai het reeds met sy internasionale veldtog begin om steun vir dié resolusie te werf en sal sigself daarvoor beywer dat die resolusie by die VN se algemene vergadering in September 2020 voorgelê word,” sê De Jager.
Hoewel die polisie die afgelope paar jaar statistieke oor sowel plaasaanvalle as -moorde begin bekendmaak het, bly dit belangrik dat organisasies soos AfriForum aanhou om inligting oor plaasaanvalle en -moorde in te samel sodat die SAPD en die regering verantwoordbaar gehou kan word. “Dit is belangrik dat organisasies soos AfriForum en Saai aanhou om die epidemie van plaasaanvalle op plaaslike en internasionale vlak te beveg om te probeer verseker dat landelike gemeenskappe die nodige bystand en beskerming kry om vry, veilig en voorspoedig voort te bestaan,” sluit Cameron af.