fbpx

Saai dien kommentaar in op wysiging van die Grondwet

Die ANC se irrasionele poging om die Grondwet te wysig om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak is tekenend van die politieke probleme wat die party onder die kieserskorps ervaar, van die kortsigtigheid van sy leierskorps wat Suid-Afrika reeds in ’n ekonomiese moeras in bestuur het en van ’n gebrek aan insig en aanvoeling vir die internasionale gevolge vir handel, diplomatieke betrekkinge en beleggersvertroue.

Onteiening sonder vergoeding het nêrens in die wêreld voorspoed, vrede of ekonomiese groei gebring nie en dit sal ook nie in Suid-Afrika goeie gevolge hê nie. Zimbabwe en Venezuela, die twee mees onlangse gevallestudies, het duidelik gewys hoe dramaties lande in duie kan stort as eiendomsreg nie gerespekteer en beskerm word nie. Die retoriek daaroor beïndruk wel die armste en swakste opgevoede gemeenskappe in diep landelike gebiede wat niks het om te verloor nie en vandaar die gevry na hulle stemme.

Die integriteit van titelaktes is nie net vir eienaars belangrik nie, dit anker ook ons landboufinansieringstelsel vir sovêr dit as sekuriteit vir lenings dien. Die reg om eiendom te besit is die hoeksteen van die vrye mark en word in artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte as ’n onvervreembare reg beskryf. Die ANC het reeds die 107 jaar oue Landbank in die grond in bestuur, waarin ’n verlies van vertroue in eiendomsgebaseerde kollateraal geen geringe rol gespeel het nie, en maak dit al moeiliker vir boere om toegang tot finansiering, beleggings en groeigeleenthede te kry.

Saai is veral bekommerd oor die buitelandse implikasies van die ANC se gevaarlike waagstuk. In weeklikse skakeling met buitelandse regerings, ambassades, landbou-unies, joernaliste en multinasionale agentskappe soos die EU, VN, FAO en Wêreldbank, is dit vir Saai duidelik dat die ANC die internasionale opinie oor onteiening sonder vergoeding verkeerd lees. Hulle instellings is baie goed ingelig oor die situasie in Suid-Afrika, volg die Zondo-kommissie nougeset en verstaan die verband tussen staatskaping, korrupsie, die ineenstorting van die parastatale instellings en wanbestuur. Suid-Afrika se diplomatieke korps is hoegenaamd nie voorbereid of toegerus om die ANC se agenda verteerbaar op te dis nie en het reeds die morele hoe grond prysgegee.

Die wêreld het die ANC uitgevang dat hulle nie oor die motiewe vir onteiening sonder vergoeding eerlik is nie. Hulle weet nou dat dit nie die beginsel van ’n vrywillige verkoper is wat misluk het nie, maar eerder ’n hopeloos korrupte koper. Al probeer die ANC sy eie Motlanthe Hoëvlak Kommissie van Ondersoek na Grondhervorming se verslag onder die tafel vee, is die verslag reeds wyd versprei en bestudeer. Dit sou die ANC baat om eerder die werklike probleme soos korrupsie, nepotisme en selfverryking onder sy kaders en staatsamptenare, soos wat in die Motlanthe-verslag uitgewys is, aan te spreek voor hulle met ’n slenter soos onteiening sonder vergoeding kom wat Suid-Afrika weer tot muishondstatus verdoem.

Buiten die kommentaar wat Saai namens familieboere oor die beoogde wysiging van die Grondwet by die parlement indien, word ’n netwerk van boere, sake-ondernemings, burgerlike organisasies, regerings en ambassades ook op hoogte gehou.