fbpx

Saai begin #SteedsGeenWapen-veldtog

Uit terugvoer van Saai se lede is dit duidelik dat boere nie nou gaan toelaat dat hulle ontwapen word nie. Die ANC se inisiatief om die besit van ’n vuurwapen vir doeleindes van selfverdediging onwettig te maak, maak opslae in die landbougemeenskap.

Die familieboerorganisasie Saai skop vandeesweek af met ’n openbare veldtog genaamd #StillNoGun. Dié veldtog is begin om druk op die polisie te plaas om sy jarelange agterstande in aansoeke vir nuwe vuurwapens, amnestie en hernuwings van bestaande vuurwapens uit te wis, en vuurwapens aan hul regmatige eienaars terug te besorg.

Die polisie het honderdduisende vuurwapens ingeneem om kwansuis ballistiese toetse daarop te doen, maar kon nog nie verduidelik hoe sulke toetse op haelgewere gedoen word nie. Boere is veral skepties oor die polisie se kapasiteit om dit te doen en hulle vermoë om die vuurwapens intussen veilig en versigtig te stoor.

“Teen ’n gemiddeld van ’n plaasaanval elke tweede dag en ’n plaasmoord elke vyfde dag oor die afgelope 25 jaar, bevind Suid-Afrika se boere hulle in onveilige omstandighede wat in elke opsig aan die definisie van ’n lae-intensiteit burgeroorlog voldoen,” sê dr. Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai.

Boere glo dat die ANC sekerlik moet weet dat die ANC self vanweë sy erfenis van liedere soos “Kill the farmer, kill the boer” en die flagrante ontkenning van die verskynsel van plaasmoorde deur onder andere pres. Cyril Ramaphosa, onder ernstige verdenking is.

Uit gesprekke met ambassades, besoekende parlementslede uit Europa, buitelandse joernaliste en digitale vergaderings met landbou-unies elders in die wêreld, blyk dit dat die hele wêreld frons oor die bisarre ontwapening van boere in die amnestieproses.

Dis veral in plattelandse polisiestasies in stelsels waar daar geen kapasiteit, geen kundigheid, geen plan en geen wil is nie, waar boere bekommerd raak dat hulle hul vuurwapens nie weer gaan terugkry nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee het pas verlede week die polisie uitgevang dat die sentrale vuurwapenregister in absolute chaos verval het. In hierdie omstandighede wil die polisie boonop selfverdediging as ’n motivering vir die besit van ’n vuurwapen skrap.

Elke akademiese studie oor die onderwerp oor die afgelope twee en ’n half dekades, alle navorsing deur institute, universiteite en selfs van die staat self, sowel as AfriForum se omvattende data oor plaasaanvalle en plaasmoorde, is dit eens dat ’n plaasgesin se vermoë om ’n plaasaanval te oorleef allereers gegrond is op hulle gereedheid om terug te skiet en deur selfverdediging tyd te koop vir die buurtwag en dalk die polisie om op die toneel op te daag.

Buiten dat die ANC se optrede op ’n etiese en morele vlak geen sin maak nie, ontbloot dit ’n posisionering wat die wêreld gevrees het.

Saai gaan hande vat met ander organisasies wat ook veldtogte van stapel stuur om wetsgehoorsame mense se reg in stand te hou om te midde van weghol-misdaadstatistieke ons lewens, ons gesinne en huis en haard te verdedig.

In ons veldtog betrek ons ook Suid-Afrikaners en vriende van Suid-Afrikaners in die buiteland, asook ambassades, buitelandse regerings en internasionale agentskappe. Lees verder op http://www.stillnogun.co.za meer oor hierdie veldtog. Of nog beter, volg die skakel en gooi jou gewig ook agter die beweging in!