Rolspelers span saam vir ware landboumeesterplan

Niemand kan meer bekostig om net toe te kyk en niks te doen met die uitdagings in Suid-Afrika nie.

Om dié rede span verskeie landbou-organisasies, -unies en bedryfsorganisasies kragte saam om met ’n ware landboumeesterplan vorendag te kom. Omvattende ontevredenheid met die staat, Agbiz en Agri SA se landboumeesterplan onder boere het organisasies waaronder Saai, TLU SA, NEASA en die LWO saam met plaaslike-, distrik-, provinsiale landbou-unies en bedryfsorganisasies genoop om die besware daarteen behoorlik te ontleed en alternatiewe voorstelle daaroor te formuleer.

Beide Saai en TLU SA het op Nampo in die week ná die ondertekening van die plan reeds begin om boere se insette vir ’n verbeterde meesterplan te kry.

’n Program word vandag (Vrydag 1 Julie) begin om die verbeterde meesterplan saam te stel wat gebaseer sal wees op ekonomiese beginsels wat in elk geval die laaste sê het om sukses te meet en alle belanghebbendes word genooi om daaraan deel neem.

’n Openbare bewusmakingsveldtog is ook begin om deelname aan te moedig. Insette sal by Saai, TLU SA, NEASA en die LWO verwerk en geïntegreer word en ’n konsepplan sal dan aan deelnemers vir afronding gestuur word. Die finale produk sal aan die staat en ondertekenaars van die huidige meesterplan voorgelê word om vas te stel waar hulle met die meer inklusiewe weergawe verskil.

Die hoofbesware teen die huidige meesterplan vir landbou is:

  • Die plan is nie inklusief nie, en buiten vir die enkele ondertekenaars was daar nie geleenthede om insette te lewer nie. Die ondertekenaars roem graag op die wetenskaplike onderbou van die proses om die meesterplan te formuleer, maar daar is geen data oor hoe die span opstellers geïdentifiseer is, hoe daar tot die gevolgtrekking gekom is dat slegs vakbonde en geen werkgewersorganisasies betrek mag word nie, of hoe sleutelterme soos transformasie gedefinieer moet word nie.
  • Die totale meesterplan word aan die transformasie-agenda ondergeskik gestel, asof landbou net oor transformasie gaan. Daar word geen definisie aan transformasie gegee nie, trouens, toe TLU SA (wat aanvanklik by die span van opstellers betrek was) daarop aandring dat daar in die skaduwee van die toestand van Eskom, SAL, Denel, SABC, Transnet en staatshospitale ’n duidelike definisie van transformasie gegee word, is TLU SA se skriftelike vertoë vir ’n jaar lank ten spyte van herhaaldelike navrae en telkens beloftes vir hantering geïgnoreer en is daar voortgegaan om die dokument af te teken. TLU SA was op die einde net eenkant toe geskuif en Saai, soos verskeie ander rolspelers, was nooit genooi om deel te wees van die proses nie.
  • Boere voel dat die winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid van landbou belangriker as transformasie is en glo dat die ondergeskiktheid daarvan aan transformasie juis die oorsaak van die ineenstorting van staatsondernemings, openbare gesondheid en soveel munisipaliteite is.
  • Dit is ’n landbouplan sonder boere. Die belang van opkomende- en aspirant-boere en van landbou-besighede is ’n sentrale tema in die staat / Agbiz / Agri SA se meesterplan, maar dit is geskryf asof die gemiddelde kommersiële familie-boerdery nie bestaan nie. As die landboumeesterplan nie ’n boer gesentreerde plan is nie, is dit tot mislukking gedoem.

’n Meesterplan vir landbou moet langer relevant bly as die bewind van ’n politieke party, en nie geformuleer wees om net ’n partypolitieke agenda te ondersteun nie. Daarom sal die verbeterde plan ook aan ander politieke partye wat ’n inset wil lewer, die geleentheid bied. Landbou-ekonome, wetenskaplikes en individuele boere word genooi om bydraes te lewer en sal ’n geleentheid hê om op ’n konsep meesterplan kommentaar te lewer.

Daar is lofwaardige elemente ook in die huidige meesterplan, soos die ses pilare wat geïdentifiseer is, naamlik:

  • Om beleidsonsekerheid op te klaar en so tot ’n beleggings vriendeliker omgewing by te dra.
  • Om te belê in infrastruktuur soos paaie, hawens, elektrisiteit en spoorweë wat krities belangrik vir landbou is en om dit te onderhou.
  • Om omvattende landboutegniese hulp, ontwikkelingsfinansiering, navorsing en ontwikkeling aan boere beskikbaar te stel.
  • Om voedselsekerheid, produksie, werkgeleenthede, waardigheid en inklusiwiteit te verhoog.
  • Om markuitbreiding, marktoegang en meer handelsgeleenthede te fasiliteer.
  • Om plaaslike produksie, invoervervanging en die uitbreiding van verwerkte landbouprodukte te bevorder.

Om dit alles egter van transformasie afhanklik en ondergeskik te maak, versaak die doel, verraai die boere en laat die plan nutteloos.

Dit is uiters naïef om staatsfunksies wat steeds toenemend ineenstort, in die meesterplan in die staat se hande te los sonder enige aanduiding van hoe die oorsaak van die nie-funksionering geneutraliseer sal word. Transformasie as kollektiewe begrip wat die regering se beleid saamvat se uitkoms soos wat dit tans toegepas word is nie in belang van enige groepering in die land nie. Werkloosheid styg jaarliks met die gepaardgaande armoede en word elke individu se toekoms onder negatiewe druk geplaas.

Die ononderhandelbares is dat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid aan die kern van ’n Landboumeesterplan staan en nie ondergeskik aan transformasie kan wees nie. Daarvoor moet kundigheid en vermoë bo ras of partypolitieke verbintenis, en markkragte bo ideologiese strewes die hoeksteen van implementeringsplanne vorm.

Daar mag geen diskriminerende diskwalifikasie op grond van taal, ras, geslag of politieke sentiment aan deelname of bydrae wees nie. Elke deelnemer en implementeerder in die oorhoofse plan om voedselsekerheid te verskans moet beide die geleentheid gebied word en die verantwoordelikheid aanvaar om die uitdagings van om ’n boer te wees, die hoof te bied.