Daar is kaders en die res

Share on linkedin
Share on twitter
Share on facebook
Share on telegram
Share on whatsapp
Share on email

Deur dr. Theo de Jager

As die Zimbabwiese ervaring, rampspoedige afwaartse kredietgraderings en verdoemende hofuitsprake oor onbevoegdheid en korrupsie die ANC se verbintenis tot onteiening sonder vergoeding nog nie genoegsaam gediskrediteer het nie, het die flagrante aankondiging dat plase aan MK-veterane geskenk word, die wêreld laat besef hoe gevaarlik die grondonteieningsagenda is.

Verskeie suksesvolle swart boere in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Mpumalanga aan wie die staat plase as “huurders” en “toesighouers” in die herverdelingsprogram toegeken het, is summier van hulle grond afgeskop om dit aan polities gekonnekteerde individue te gee. Saai tree vir ’n aantal van hulle op, en vind dat die grondsakedepartement, wanneer regstappe teen hulle gedoen word, bloot aan die slagoffers nuwe plase gee waarop daar reeds ander begunstigdes gevestig is. Die probleem word telkens net na ’n volgende slagoffer aangeskuif.

Dat growwe nepotisme en kaderbevoordeling vir omvattende ontwrigting van families op plase verantwoordelik is, is reeds wêreldwyd in die nuus gerapporteer. Saai is bekommerd dat die betrokke departement regtig ook geen benul het wat op die staatsplase gebeur nie, dat hulle administrasie regtig so chaoties is dat hulle nie toegang tot hul eie rekords het nie, en dat hulle regtig onder die indruk is dat daar op 700 staatsplase niemand is teenoor wie die staat ’n kontraktuele verantwoordelikheid het nie.

In die Oos-Kaap is Vuyani Sigana ná nege jaar van sy plaas afgegooi om vir ’n welvarende ANC-kader, wie se sakeondernemings en verskeie ander plase reeds uit staatsprogramme voordeel trek, plek te maak. Vuyani se beeste moet op padskouers wei terwyl hy wag om ’n alternatiewe plaas te kry. ’n Buurman van Vuyani se melkery gaan tot niet omdat iemand met ’n ANC-lidmaatskapkaart uit die bloute sy plaas met die seën van die departement oorgeneem het.

In Mpumalanga word 39 swart boere se verblyfreg beëindig om vir ANC-kaders plek te maak. Daar word min tyd gegee om te ontruim, en geen alternatiewe word aangebied nie. Swart boere wat met groot opoffering en byna geen hulp van die staat hulle boerderye en die staatsplase ontwikkel het in die verwagting om ’n langer huurkontrak te kry, word op straat gelaat.

Die debakel rondom Ivan Cloete, wat ’n derde maal van sy plaas in die Wes-Kaap afgeskop is om vir ’n voormalige ANC-parlementslid plek te maak, het wyd plaaslik en in die buiteland opslae gemaak. In gesprekke wat Saai sedertdien met ambassades gehad het en in digitale vergaderings met buitelandse landbou-unies en projekgroepe gons dit oor die skreiende boelietaktiek wat die ANC teenoor opkomende boere openbaar, net om mense uit die partypolitieke binnekring te bevoordeel.

Toe Tina Joemat-Pettersson ná die staatsrede-debat in die parlement blatant aankondig dat MK-veterane onteiende plase sal kry omdat die ANC hulle nie na behore vergoed het nie, het skok en ongeloof oor die wêreld heen geëggo. Dit gaan nie net oor agterdog jeens die register van MK-veterane, wat klaarblyklik maandeliks al hoe jonger word nie, of oor skeptisisme oor die rekords van vergoeding wat hulle oor die afgelope ses dekades ontvang het nie. Dit gaan nie net oor ’n wêreld van beleggers en handelsvennote wat hulle boeglam skrik vir die taalgebruik en inhoud wat so presies op die Zimbabwiese lees geskoei is nie. Dit gaan oor ’n land wat voos gesteel is deur presies daardie klas van begunstigdes deur middel van kaderontplooiing, staatskaping, stroping van nasionale bates, korrupsie, nepotisme en bedrog.

Ons het hier nie met arm mense te doen nie. Die “veterane” wat hardwerkende swart boere se plase gekry het, het almal reeds ’n verskeidenheid ander plase en ondernemings. Dit is nie ’n nuwe klas suksesvolle swart boere wat hier geskep word nie, maar bloot nog ’n voerplek vir dieselfde ou bende trogvreters wat Suid-Afrika in die huidige jammerlike toestand laat beland het.

Hulle gaan deur geen deursigtige keuringsproses nie.

Hulle is nie boere nie en het ook nie die ambisie om te boer nie; inteendeel, daardie klas van opkomende boere word juis deur dié “veterane” haweloos, weerloos en moedeloos gelaat.

Reeds in die eerste toetslopie vir onteiening sonder vergoeding in Limpopo is die verrotte agenda daaragter geopenbaar. Die plaas Akkerland is onder die vaandel van “grondeise” onteien sodat goed gekonnekteerde kaders materiële voordele uit ’n reuse Chinese nywerheidsontwikkeling kon trek. ’n Gideonsbende van organisasies – waaronder AfriForum, Solidariteit, Agri-Limpopo se vorige bestuur en TLU SA – het die onreg ontbloot, die onteiening omgekeer en kostebevele teen die minister, die grondeisekommissaris en die registrateur van aktes gekry.

Nieteenstaande omvattende mediadekking oor die skaamtelose vergrype deur sy kaders en die aktualiteit daarvan in die internasionale politieke debatte, blameer die ANC steeds graag die vrywilligeverkoperbeginsel, te hoë plaaspryse, apartheid, kolonialisme en les bes die boere vir die mislukking van grondhervorming. Dit is nie anders as Jacob Zuma of Ace Magashule wat die howe, die regters, witmonopoliekapitaal of apartheid vir hul betrokkenheid by staatskaping blameer nie.

Die wêreld is egter meer ingelig en intelligenter as dit. Dit is ons taak om te sorg dat dieselfde van kiesers in die diep plattelandse gebiede gesê kan word.

Dr. Theo de Jager is die direksievoorsitter van Saai.

KONTAK ONS

PLATFORMS

Teken In

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.