fbpx

Boere moet mekaar ondersteun en beskerm

Boere moet waaksaam en ekstra paraat wees te midde van die omvangryke plundery in KwaZulu-Natal, Gauteng en elders in die land. Hulle moet deurlopend met mekaar en met hul georganiseerde landboustrukture in kontak bly, voorvalle aanmeld en hul plase, huise, gesinne en werkers veilig hou.

By Saai doen ons alles in ons vermoë om families op plase te ondersteun wat in nood verkeer, moet vlug of in gevaar is om skade weens brande en plundering te ly. Saam met ons netwerkvennote is daar ’n uitgebreide teenwoordigheid van burgerlike strukture, plaaswagte en ander organisasies in die grootste deel van die land wat ernstig is om boere en gemeenskappe van hulp te wees.

Hoewel boere die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag teen plunderaars verwelkom, is die 2 500 soldate veels te min. Terwyl winkelsentrums, plase, hoofpaaie en voertuie brand, het Suid-Afrika die reg om te weet wat van die res van ons militêre vermoë, toerusting en soldate geword het.

Die beelde van plunderende skares wat brande stig, steel en skiet, is oor die wêreld heen uitgesaai. Saai word toegegooi met boodskappe van simpatie, besorgdheid en meelewing van landbou-organisasies uit Nieu-Seeland, Kanada, Japan, Italië, Hongarye, Tunisië en vele ander lande. Die regering het nie ’n goeie storie om te vertel nie.

Die openbare vernietiging van geboue, voertuie en winkels is bloot ’n verlengstuk van ’n mentaliteit van plundery wat die ANC té lank gekoester en selfs beskerm het. Stroping van die staat en Suid-Afrika se bates kom van lank voor die huidige oproerige eise om Zuma vry te laat. Die diepgewortelde hebsug, nepotisme en bedrog binne die ANC is voor die Zondo-kommissie ontbloot. Die ANC het herhaaldelik in die parlement sy eenparige steun aan Zuma toegesê lank nadat die omvang van plundery al openbare kennis geword het.

Aan die kern van die ineenstorting van wet en orde in KwaZulu-Natal en elders in Suid-Afrika lê die ANC se beleid van kaderontplooiing. Voordat daar nie sterk genoeg leierskap na vore tree om die wese van die krisis op te los nie, gaan boere van alle groottes, rasse en kultuurgroepe in Suid-Afrika kwesbaar bly, en sal hulle grootliks op hulself en mekaar aangewese wees om hul plase en gesinne teen strafregtelike aanvalle te beskerm.