Zondo-verslag is die oortjies van die seekoei

Die wyse waarop die staat sedert die vroeë 2000’s met grondhervorming en landbou-ontwikkeling omgegaan het, noop ’n ondersoek na staatskaping en korrupsie soortgelyk aan die Zondo-kommissie.

Terwyl Suid-Afrika steier onder die eerste Zondo-kommissieverslag se onthullings van bedrog, nepotisme, selfverryking, kaderbevoordeling en oneerlikheid onder ANC-bewind en -bestuur, is daar omvangryke onreëlmatighede in die grondhervormingsproses waarna die kommissie nie eers gekyk het nie. Saai as ’n netwerk vir familieboere hoop dat daar eendag ’n soortgelyke ondersoek na die departemente wat vir grondhervorming en boerontwikkeling verantwoordelik was, van stapel gestuur sal word.

Voormalige president Kgalema Motlanthe het in 2018 reeds ná ’n hoëvlakondersoek ’n verdoemende verslag oor onreëlmatighede in grondhervorming aan President Ramaphosa oorhandig, maar daar het dadels van gekom. Niemand is verantwoordelik of aanspreeklik gehou nie.

Só ’n ondersoek behoort te fokus op die geldigheid en wetlikheid van grondeise wat tot transaksies van biljoene rande aanleiding gegee het. Dit behoort ook die begunstiging van lyste van mense wat uit daardie transaksies en landbou-ondernemings voordeel trek, onder ’n vergrootglas te plaas. Geld wat vir boerontwikkeling en aanvangskapitaal aan grondhervormingsbegunstigdes begroot is, kom selde by hulle uit, en omstrede gemeenskap- eiendomsverenigings is meestal gelaai met kaders wat geen belang by suksesvolle landbouontwikkeling of armoedeverligting het nie. Hulle lê meestal oorhoops met die mense wat veronderstel is om uit grondhervorming voordeel te trek, en loop weg met die geld.

Die manipulering van plaaspryse om vir ongeopenbaarde “kommissie” en omkopery voorsiening te maak het in transaksies soos in Badplaas en Mala-Mala, waar ’n biljoen rand vir ’n wildplaas betaal is, opslae gemaak, maar daar het ná meer as ’n dekade ook niks van gekom nie.

Ook die herverdelingsprogram, waar begunstigdes nie eienaarskap van die grond kry nie maar met huurkontrakte tot ewige bywonerstatus verdoem word, word deur nepotisme en korrupsie gekniehalter. Die voorvalle waar Ivan Cloete in die Wes-Kaap, Vuyani Zigana in Oos-Kaap en 39 swart boere in Ermelo van hulle huurplase afgeskop is om vir skatryk tenderpreneurs met invloedryke vriende voorsiening te maak, is maar enkele voorbeelde wat mediablootstelling gekry het. Die ANC-leierskap se verskoning is deurgaans dat hulle nie daarvan bewus was nie, maar daar is ook geen optrede teen korrupte laervlakamptenare nie.

Die hoë omset van direkteur-generaals in die betrokke departemente is ’n aanduiding van die chaos en gebrekkige leierskap in grondhervorming. Elke keer as ’n minister of swart landbouleiers sê dat meer as 90% van alle grondhervormingsprojekte misluk het, wonder die boere waar die ander 10% is.

By elke vergadering wat Saai met ambassades in Pretoria, of met buitelandse regerings elders in die wêreld het, kom die jammerlike toestand en swak bestuur van grondhervorming ter sprake en dit is duidelik dat Suid-Afrika iets verbeeldingryk sal moet doen om legitimiteit en vertroue in grondhervorming te herstel.

Om die Motlanthe-verslag onder die mat uit te haal en ’n Zondo-tipe ondersoek van stapel te stuur, kan al ver gaan om grondhervorming op ’n sinvolle trajek te plaas en ’n klas van winsgewende swart boere te skep.

CONTACT US

PLATFORMS

Sign Up

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.