fbpx

Wynverbruik en -verkope: Saai binnekort in die hof

Die familieboerorganisasie Saai sal die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria op 18 Augustus 2020 dringend nader om die verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante ter syde te stel. Dié aansoek kom nadat President Cyril Ramaphosa op 12 Julie 2020 wéér ’n algehele verbod op die verkoop en vervoer van drank aangekondig het.

“Die instelling van dié regulasies is arbitrêr en irrasioneel. Die regering se stelling dat die regulasies ingestel is om die verspreiding van die COVID-19-virus te beperk en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, dra nie water nie. Die regering gee voor dat hulle die ekonomie te wil red, maar pas dubbele standaarde toe wanneer dit kom by die toepassing daarvan. Taxi’s is byvoorbeeld ’n groot risiko vir die verspreiding van die virus, maar hulle mag tans teen 100%-kapasiteit funksioneer. Restaurante mag oop wees, maar word verbied om wyn te bedien in ’n gereguleerde, higiëniese omgewing met fisieke afstand,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai meen dat hierdie regulasies die bestaan van die oudste familieplase in Suid-Afrika bedreig en ’n sektor kniehalter wat met die bestes in die wêreld kompeteer en ʼn kernrol in die land se ekonomie speel. Die regering bied reeds geen droogtehulp of finansiële bystand vir hierdie boere nie – deur hul mark te sluit, verseker die regering hul einde.

“Anders as alkoholprodusente, is ’n wynboerdery nie net geskoei op ’n strewe na toenemende winsbejag nie. Dit gaan ook oor ’n nalatenskap; die oordrag van kennis van geslag tot geslag; die integriteit van ’n handelsmerk; die naam op die etiket; en die onderhoud van ’n gesin en ’n gemeenskap. ’n Wynboerdery is ook nie net ’n wingerd met ’n kelder langsaan nie. Dit is ’n bestemming waar besoekers en toeriste iets tasbaar van die omgewing kan ervaar. Dus speel so ʼn landgoed ’n wesenlike rol in die bemarking van ’n streek of provinsie en sy geskiedenis, en is hy afhanklik van ondersteuning nie net in terme van sy produk nie, maar ook as toeriste-aantreklikheid,” sê dr. Theo De Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai sal versoek dat artikel 44(1) en (2) van die nuwe regulasies opgehef word en dat wyn op wynplase en in restaurante bedien mag word. Saai se aansoek word deur 13 ander applikante uit die wynbedryf ondersteun.