fbpx

Wiesenhof dra by tot Saai-familieboerfonds

Die rugbylegende en oud-Springbokslot Kobus Wiese het R247 014 aan die familieboernetwerk Saai geskenk as ’n bydrae om familieboere op hul plase te hou.

Van elke koppie koffie, cappuccino en ontbyt wat die Wiesenhof-koffiewinkels en Dulcé-restaurante verkoop, gaan ’n paar rand na die familieboerfonds waarmee Saai ’n beter veiligheidsomgewing vir boere skep en ramphulp verleen aan boere wat onder droogte of brande gebuk gaan en sukkel om hulle vee te voer.

Die nuutste skenking sal aangewend word om veiligheidskameras in die Laingsburg-distrik en Moordenaarskaroo op te rig om plaaslike boere in hulle stryd teen plaasaanvalle, vee- en koperdiefstal en plaasbetreders te help.

Dit is vennootskappe en bydraes soos hierdie wat plattelandse families ondersteun om korttermynuitdagings te bowe te kom en die landelike gebiede lewensvatbaar te hou. Saai en sy lede is diep dankbaar teenoor Wiesenhof, Dulcé, die Wiese-gesin, en alle sakelui wat verstaan hoe waardevol familieboerderye is en wat tasbaar help om gesinne op hulle plase te hou.

Besoek jou naaste Wiesenhof-koffiewinkel of Dulcé-restaurant en ondersteun familieboere om hulle veilig en voorspoedig op hul plase te hou.