fbpx

Vind alternatiewe bronne vir landboufinansiering

Landboufinansiering bly een van die moeilikste uitdagings vir boere in Suid-Afrika ná die ineenstorting van Landbank. Terwyl die meeste mense 2020 sal onthou as die jaar van rampe soos die COVID-19-pandemie, brande en droogte, sal boere dit onthou as die jaar waarin Landbank ineengestort het, en die boere in ’n finansieringsvakuum gelaat is.

Uit noodsaaklikheid het verskillende instansies uit die privaat sektor ingetree om die gaping wat Landbank gelaat het, te probeer vul. As ’n netwerk vir familieboere van alle groottes en kapasiteite het Saai ’n webinaar gereël om ’n aantal van hierdie inisiatiewe aan boere en landbou-ondernemings bekend te stel.

Handelsbanke het reeds begin om finansiering te bied aan honderde voormalige Landbank-kliënte en probeer steeds maniere vind om nóg voormalige Landbank-kliënte te betrek. Dit kos die boer wel ’n bietjie meer. Die handelsbanke het dus op die groter boere gefokus en daarin geslaag om ’n paar van die sterkste en mees gevestigde boere as kliënte te kry. Dit maak dit vir die kleiner en mediumgrootte boere nóg moeiliker om toegang tot geleenthede soos hierdie te kry om finansiering te bekom.

Sommige koöperasies en landbou-insetverskaffers het daarin geslaag om buitelandse finansiering te bekom om Landbank as oorspronklike lener te vervang. Hierdie proses het sy eie risiko’s, soos wisselvallige wisselkoerse, en dit het hierdie koöperasies bykans vyf jaar geneem om kanale te skep en prosesse in werking te stel voordat hierdie fasiliteite beskikbaar gemaak kon word.

’n Ander opsie wat op ’n korter termyn beskikbaar is, is die vooruitkoop van produkte, veral by invoerders van die Verenigde Arabiese Emirate en elders in die Midde-Ooste. Daar is ’n oorvloed geleenthede hier, maar dit is ’n druppel in die emmer om landwye voedselsekerheid hier in Suid-Afrika te verseker.

Rabo Bank, ’n koöperatiewe bank in Nederland wat ook in ’n aantal buurlande en elders in Afrika teenwoordig is, het hul gewilligheid en voorwaardes vir uitbreiding na die Suid-Afrikaanse landboumark aangedui. Op die lang termyn sal die droom verwesenlik kan word om ’n koöperatiewe bank in Suid-Afrika te vestig wat aan die boere self sal behoort.

Soos planttyd nader kom, raak boere toenemend desperaat vir finansiering. Sonder finansiering is daar geen produksie nie.

E-pos [email protected] vir meer inligting of kontakbesonderhede oor van die bogenoemde opsies.