fbpx

Verbod op wynverkope: Stop die onsinnigheid

Veel meer as die frustrasie in die markplek van wynliefhebbers wat sukkel om ’n bottel wyn in die hande te kry of van gaste wat die Boland droëbek besoek omdat wynproe by ’n duur kelderrestaurant ook verbied is, ly boere, werkers en dorpe onder ’n drakoniese maatreël wat die verkoop en vervoer van wyn verbied.

Met die verskoning dat alkoholverbruik tot huismoles, straatgeweld, ongelukke en ander euwels lei wat beddens in hospitale se hoësorgeenhede beset wat vir COVID-19-pasiënte beskikbaar moet wees, mag restaurantgangers nie eens ’n glasie wyn vir middagete koop nie.

’n Kombersverbod op alle alkohol is die stompste instrument wat die regering kán gebruik om ’n delikate operasie mee uit te voer. Intussen bloei honderde wynplase en tientalle dorpe dood, gaan werksgeleenthede vinniger verlore as wat COVID-19-geld in die staatsdiens wegraak en dreig een van Suid-Afrika se oudste landboubedrywe om deur die vloer te gaan.

Die argument dat ’n alkoholverbod beddens in hospitale beskikbaar maak soos wat ons oor Nuwejaar in hospitale beleef het, hou beslis water. Maar net soveel beddens word deur taxi-ongelukke in beslag geneem en daar is geen poging aangewend om hulle van ons paaie af te kry of selfs die passasiersbelading minder te maak nie. Die regering sê dat dit oor werk, inkomste en lewensbestaan gaan. Maar met watter mandaat kan die regering besluit dat die oorlewing van werksgeleenthede in die taxibedryf belangriker is as dié van die wynbedryf?

Daar is in elk geval ’n aandklokreël wat motoriste tussen 21:00 en 05:00 van die paaie af hou en wat deur beamptes en padblokkades gepolisieer word. Daar is geen rasionele rede om die voortbestaan van ’n familieplaas wat reeds eeue lank die Bolandse ekonomie aan die gang hou, in gedrang te bring omdat ’n kantoorwerker dink hulle kan daardeur ’n paar beddens vir COVID-19-pasiënte oophou nie.

In ’n soortgelyke saak het Saai en ander belanghebbendes ’n saak oor die tabakverbod voor die hof gebring en waarin ’n verdoemende uitspraak teen die grondwetlikheid en rasionaliteit van die verbod gelewer is. Ons kan aantoon dat 20 weke van ’n tabakverbod en die miljarde rande se skade aan die ekonomie, werksgeleenthede en lewensbestaan van derduisende gesinne volgens die staat se eie syfers dalk hoogstens 18 beddens kan spaar!

Wyn is ’n landbouproduk en wyn en kos gaan saam, daarom kan ’n mens dit (anders as ander alkohol) van rakke in supermarkte koop. Honderde wynboere staar ondergang in die gesig. Selfs as die bedryf nou weer van sy kettings bevry word, is die skade onherstelbaar .

Tenks en vate in kelders is vol en daar is nie plek vir 2021 se oes nie. Boere kry nie leweringskwotas nie en oestyd het begin. Jy kan nie ’n plaas vir ’n jaar sluit nie – veral nie nadat dit die vorige jaar gesluit was nie.

Een werker op ’n wynplaas het vir ons gesê hy sterf eerder aan COVID-19 as aan honger en verdriet; maar dood is dood!