fbpx

Suid-Afrika se verlies aan jong boere is omkeerbaar

Dr Kandas Cloete het in haar PhD-studie aan die Universiteit van Stellenbosch bevind dat tot 20% van boere in die ouderdomsgroep 35 tot 45 beplan om die bedryf binne die volgende dekade te verlaat.

Vir Saai as familieboerderynetwerk is hierdie bevinding nie ’n verrassing nie. Familieboere is die kwesbaarste sektor in die landboubedryf en baie maak waarskynlik planne om hulle plase te verkoop en elders ’n heenkome te soek.

Die uitkoms van Cloete se studie het verdoemende implikasies vir plaasdorpe. Klein dorpies in Suid-Afrika is op drie pilare gevestig: ’n kerk, ’n laerskool en ’n koöperasie. Oral in Suid-Afrika is klein dorpies besig om dood te gaan omdat een van dié drie pilare begin verkrummel. Dit is juis boere tussen 30 en 45 jaar wat nog jonk genoeg is om kinders in ’n laerskool te hê wat plattelandse dorpe aan die gang hou. Saai stem saam met dr. Cloete se bevinding dat die ondergang van plaasdorpe aangedryf word deur gebrekkige finansiering, swak veiligheidsomstandighede op die platteland en veral op plase, onsekerheid oor grondeienaarskap en gebrekkige winsgewendheid. Dit is belangrik om daarop te let dat al hierdie faktore met politieke beleide te make het.

Dit is goed dat Cloete se studie juis nou gedoen is. Noudat die Landbank ondergegaan het, veiligheid op plase ’n groter krisis as ooit tevore is, en hemelhoë insetkoste boere se winsgewendheid onder druk plaas, torring die ANC ná hulle mislukte pogings om die grondwet te wysig met nuwe vuur aan grondeienaarskap.

Daar is twee maniere om dié tendens om te draai: Eerstens deur verdere gesprekvoering met beleidmakers, en tweedens deur verset en druk. Laasgenoemde sluit ook die daarstelling van alternatiewe strukture en selfdoenmeganismes in wat die landbou staatsbestand kan maak. Saai is altyd oop vir ’n gesprek met beleidmakers, maar  dit het oor die afgelope 20 jaar bloedweinig resultate opgelewer. Daarom is Saai aktief besig om die druk te verskerp deur eie strukture te skep en hofsake teen staatsinstellings te voer.

Goeie vordering is reeds gemaak met alternatiewe finansieringsbronne aangesien die Landbank waarskynlik nie vinnig weer op sy voete sal staan nie. Boere moet vir hul eie veiligheid sorg omdat hulle uitgelewer is aan die staat se onvermoë om veiligheid in landelike gebiede en op plase te waarborg. Die staat se vermoë om die platteland te beveilig het jare gelede al in duie gestort met die ontbinding van die kommando’s en die daaropvolgende veiligheidsvakuum.

Saai is weekliks in gesprek met ambassades en multilaterale instellings soos die Verenigde Nasies, die Afrika-unie en die Europese Unie om die korrupsie, nepotisme en wanadministrasie in die Suid-Afrikaanse grondhervormingsisteme aan die kaak te stel en so druk op die regering uit te oefen. Die winsgewendheid van boerdery kan baie verbeter word deur aandag te skenk aan geadministreerde kostes soos die addisionele  belasting op diesel, tolhekke, minimumlone, en die koste van lisensies, permitte, water en elektrisiteit. Korrupsie is ook ’n vorm van administratiewe koste.

Saai glo die situasie is omkeerbaar omdat dit alles met ’n swak beleidsomgewing te doen het. Die implikasie is egter dat ’n beter beleidsomgewing geskep moet word, en dit is onwaarskynlik dat die huidige regering dit gedoen sal kry.