fbpx

Sperdatum vir vuurwapenamnestie om die draai

’n Wesenlike aantal boere in Suid-Afrika gaan nie betyds voor 31 Januarie hul vuurwapens onder die huidige amnestievoorwaardes en COVID-19-verwante uitdagings ingee nie, selfs al wou hulle.

Met die sperdatum vir amnestie vir vuurwapenlisensies om die draai, was die druk op vuurwapenlisensiekantore vandeesweek dikwels onhanteerbaar groot. As gevolg van die vereiste dat vuurwapeneienaars hulle wapens by polisiekantore moet ingee, het boere tot die laaste oomblik gewag voordat hulle van die amnestievergunning gebruik maak. In ’n verswakkende veiligheidsomgewing met plaasaanvalle wat toeneem, wil boere die tydperk wat hulle sonder ’n vuurwapen weerloos gelaat word, tot die minimum beperk.

Boere is dankbaar vir polisiestasies wat reeds voorsiening gemaak het om ook Saterdag en Sondag vir amnestie-aansoeke oop te bly, en voorsien dat plattelandse vuurwapenkantore oor die naweek oorval sal word.

Saai bly egter skepties oor die SAPD se vermoë om die aansoeke in ’n billike tyd te verwerk, ballistiese toetse af te handel en die regte vuurwapens weer in dieselfde toestand aan vuurwapeneienaars terug te besorg. Daarom raai Saai aansoekers aan om foto’s van vuurwapens te neem voordat hulle dit ingee.

Die ontwrigtende uitwerking van COVID-19 en COVID-19-regulasies op die amnestieproses kan nie ontken word nie. Vuurwapenlisensiekantore en betaalkantore in polisiestasies was en is steeds gereeld toe en polisiebeamptes en aansoekers is dikwels om COVID-19-verwante redes afwesig of in isolasie. Te veel polisiekantore het nie genoeg voorgeskrewe vorms nie, of kla dat hulle dikwels van lyn af is of vanweë beurtkrag nie ’n aansoeker kan diens nie.

“Al is die amnestietydperk voorheen reeds vanweë COVID-19 verleng, is dieselfde redes tans relevant vir ’n verdere verlenging. Die doel van die amnestie is juis om vuurwapeneienaars weer aan die regte kant van die wet te kry, en die huidige omstandighede vanweë die COVID-19-pandemie ry daardie doelwit in die wiele,” sê dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter.

Boere wat probleme met die amnestieproses ondervind, kan besonderhede daarvan per WhatsApp na 066 071 6094 stuur, waarna Saai ’n lêer van al die individuele probleme aan die SAPD sal oorhandig.