fbpx

SEB-vereistes vir uitvoere sal rampspoedige gevolge hê vir familieboerderye

Swart Ekonomiese Bemagtigingsvereistes vir boere wat plaasprodukte wil uitvoer is moreel onregverdigbaar en kan rampspoedige gevolge vir die lewensvatbaarheid van familieboerderye en vir die plattelandse ekonomie hê.

Asof die rasbeheptheid van die ANC nie al genoeg skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie berokken het nie, sal die vereiste van SEB-teikens oor die korttermyn landbou-uitvoere, en oor die mediumtermyn ons boere se mededingendheid vermink.

Boere se besware oor die nuwe regulasies lê op drie vlakke: beginselprobleme, besigheidsbrobleme en praktiese probleme.

Beginselprobleme

Hoe pas mens SEB in ’n familieboerdery toe? Dit kan moeilik genoeg wees vir ’n pa en ’n seun om saam te boer, of vir neefs, wat nog te sê ’n swart vennoot wat op ’n boerdery afgedwing word?

As die regulasies so toegepas word sou dit beteken dat individuele families die rekening vir ’n nasionale transformasiedoelwit moet dra, terwyl die staat daarmee klaaglik misluk het.

Soveel miljoene wat die staat al vir dekades deur die Agri-SEB Fonds in die ontwikkeling van swart boere belê het, het nog nie daartoe gelei dat hulle ’n beduidende bydrae tot die omset op plaaslike of internasionale markte maak nie. Die ondoeltreffendheid van 29 jaar se landbou-ontwikkelingsprogramme van die staat en die vernietigende impak van SEB in die openbare sektor en in die staatsondernemings kan nie in ons voedselsisteem geduld word nie.

Besigheidsprobleme

Grondhervorming was bedoel om gelyke geleenthede vir alle boere te skep. 25 jaar ná die afsnypunt vir grondeise het die staat nog nie eers ’n lys daarvan opgestel nie, terwyl hulle lankal reeds ’n klas van kompeterende swart boere moes geskep het. Nou verplaas hulle die verantwoordelikheid na familieboere wat reeds in ’n swak beleidsomgewing, waar daar teen hulle beslis word, teen die beste produsente in die wêreld vir rakspasie moet meeding.

In provinsies soos Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal hang onafgehandelde grondeise vir dekades lank al soos ’n swaard oor plase en trek dit die handrem op verdere beleggings op. Daar is reeds in 2010 met die staat ooreengekom dat plase met onafgehandelde grondeise van alle SEB-vereistes vrygestel moet word omdat geen belegger sal belangstel in ’n plaas as hy nie seker is of dit oor ’n jaar of twee dalk oorgedra sal word nie. Dis nooit gedoen nie.

Die regering het oor en oor die regstryd oor sy “nuwe apartheid-styl” rasbeheptheid teen Solidariteit verloor, en die nuwe maatreëls val ver buite die raamwerk van internasionaal aanvaarbare protokolle.

Die winsmarges in boerdery is onder druk. ’n Boer kan dit nie bekostig om opgeblaasde insetpryse aan SEB-ondernemings te betaal as hy beter kwaliteit teen goedkoper pryse by goed gevestigde insetverskaffers kan kry nie. Klein en medium boerderye het nie die luuksheid om bestuurders aan te stel vir hulle velkleur nie – hulle moet vermoë, ervaring, kwalifikasies en ywer ook in ag neem.

Om op eienaarskapvereistes te presteer moet swart beleggers bereid wees om in familieboerderye in te koop. Dit moet vinnig gebeur voor die uitvoerseisoen begin. Maar die staat het geen spesiale finansieringskema vir voornemende beleggers in plek gestel nie, en die verwagting is dat daardie aandele gratis of teen massiewe afslag afgestaan moet word. In te veel gevalle waar die waarde van aandele in landboumaatskappye verwater is om swart verteenwoordiging in die eienaarskapstrukture te kry, het SEB geen voordeel gebring nie en is die aandele weer deur die begunstigdes teen ’n fraksie van die waarde aan wit beleggers verkoop. Dan sit so ’n maatskappy weer sonder sy SEB-status maar met verwaterde waardes.

Praktiese probleme

In talle regsgedinge waarby Saai namens sy swart lede betrokke is, gaan dit oor bona-fide swart boere wat van staatsplase afgeskop word om met goed gekonnekteerde kaders vervang te word. Die ANC het al bewys dat hulle nie in die algemene ontwikkeling van swart boere belangstel nie, maar eerder nog ’n afvoerpunt wil skep waarby kaders sal baat.

Landbou-organisasies wat hulle inkomste, bestaansreg of mandate hoofsaaklik van landboubesighede kry, is meer inskiklik om die ANC se rasse-ideologie te ondersteun. Hulle kan die las van SEB-vereistes bekostig, en vry graag na die welwillendheid van die regering. Vir die oorlewing van familieboerderye gee hulle nie veel om nie.

Hulle argument dat SEB-vereistes al jare lank kom, dat hierdie betrokke uitvoerbeperkings vir gunstige tariewe op sap en ingelegde produkte in die EU en VK geld, en dat dit in elk geval nie behoorlik toegepas word nie, is ’n drogredenasie. Dit maak SEB-vereistes op familiebesighede nie minder absurd nie, dit maak maak die skade van SEB aan die ekonomie nie minder rampspoedig nie, maar dit tas die beginsel aan dat handelsbeperkings op grond van ras ’n fundamentele ongeregtigheid verteenwoordig.

Landbou-organisasies wat die SEB-regulasies vir uitvoere ondersteun is meestal dié wat op die Landboumeesterplan afgeteken het, terwyl dié wat voel dat winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid belangriker as transformasie is, ook die SEB-regulasies verwerp.

SEB-vereistes vir die uitvoere van landbouprodukte sal geen goeie uitkomste hê nie. Dit plaas landbou op dieselfde pad as Denel, SAL, SABC en openbare gesondheidsorg. Die skade word gou te omvangryk om dit weer te herstel. Saai sal in elke plaaslike en internasionale forum, in howe en multilaterale agentskappe van die VN en die Afrika-unie daarteen baklei.