fbpx

Saai wil by Nampo-oesdag hoor wat boere se uitdagings is

Die familieboernetwerk Saai gaan volgende week die Nampo-oesdag gebruik om by boere self te hoor wat hulle uitdagings en bedreigings is. Boere word gevra wat die vyf belangrikste faktore is wat sou kon veroorsaak dat hulle en hulle gesinne dalk in 2032 nie meer op hulle plase sal boer nie.

By Saai se stalletjie in die Nampo-saal kan boere op ’n vraelys met veelvuldige keusevrae aandui watter van die volgende bedreigings of kwessies vir hulle die grootste gevare inhou:

  • Die beskikbaarheid van en toegang tot finansiering
  • Veiligheid
  • Stabiliteit en orde in Suid-Afrika/Radikale politiek
  • Grondhervorming en grondonteiening
  • Uitbreidingsmoontlikhede
  • Familiedinamika/Opvolging/Ouers of kinders se keuses
  • Water
  • Winsgewendheid
  • Arbeid, lone, vakbonde en stakings
  • Infrastruktuur: paaie, elektrisiteit en konnektiwiteit

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê daar is geen groter geleentheid op die landboukalender waar meer boere op een plek en tyd saamkom as by Nampo nie. “Ons kan nie die geleentheid om die outentieke menings, persepsies, besorgdhede en vooruitsigte van familieboere in alle bedrywe en oor die hele land te toets, mis nie”, sê hy. “Dit is belangrik dat ons beleidsontwikkeling, standpunte, aksies en veldtogte in pas bly met wat in die harte en gedagtes van ons boere aangaan, en Nampo bied ’n unieke geleentheid om dit eerstehands te bepaal.”

Dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, glo boere op grondvlak se insette is noodsaaklik om georganiseerde landbou se aksies en standpunte te rig. “Dit gebeur te dikwels dat ’n landbou-unie verwyderd raak van die realiteite op plaasvlak. Ons het iets daarvan gesien met die reaksie op die agentskap vir uitvoersertifisering van bederfbare produkte (PPECB) se eise dat SEB-sertifikate saam met aansoeke vir uitvoerlisensies ingedien moet word.”

Nampo-gangers kan by Saai se stalletjie ’n blitsopname invul en staan dan kans om een van drie groot pryse te wen. Boere wat Nampo nie vanjaar gaan bywoon nie, kan die vraelys op Saai se webwerf by https://saai.org/nampo-peiling/  invul.