fbpx

Saai verwelkom Rakgase-uitspraak

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) verwelkom die uitspraak van die Gautengse hooggeregshof, wat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dwing om die staatsplaas te verkoop aan David Rakgase, ’n begunstigde van grondhervorming in Limpopo. Rakgase boer vir die afgelope 27 jaar op dié plaas.

Privaateiendomsreg is die sleutel tot investering, groei, welvaartskepping en werkskepping – veral in landbou. Dit is die hoeksteen van kollateraal in produksiefinansiering en die bakermat van ekonomiese groei. Dit is betreurenswaardig dat die departement so dikwels deur die howe gedwing moet word om hul mandaat uit te voer.

Saai wil hul kollega Rakgase, sy seun, Mmofa, en hul gesin, asook die DA en alle ander organisasies en partye gelukwens met die deursettingsvermoë wat hulle in die uitgerekte hofstryd aan die dag gelê het. Dit is ’n oorwinning vir honderde ander begunstigdes van grondhervorming wat onder die huidige swak beleidsomgewing gedoem is tot mislukking as bywoners en huurders op staatsgrond.

Saai fasiliteer op 11 September 2019 ’n boeredag by The Hub Georges Valley in Tzaneen vir ontwikkelende boere en die begunstigdes van grondhervorming in Limpopo, waar hulle versoek het om titelaktes op die agenda te plaas.