fbpx

Saai verwelkom hulp aan boere; meer begrip egter nodig

 Enige hulp aan boere tydens die staat van inperking moet verwelkom word.

Daar bestaan tans ’n persepsie dat die landboubedryf ongehinderd met sy sake kan voortgaan, omdat landbou uitgesluit is van die streng inperkingsmaatreëls. Dít is egter nie waar nie. Heelwat van die landbouwaardekettings is onderbreek en die geïntegreerde aard van die verskillende produkte wat op ’n plaas geproduseer word – asook die feit dat net sommige daarvan as noodsaaklike produkte beskou word – veroorsaak dat boerdery as ’n sakeonderneming op baie plase in die wiele gery word. So byvoorbeeld is daar baie boerderye waarvan groente en vrugte of vleis net ’n deel van die jaarlikse inkomstestroom vorm en wat deur tabak, bosbou, of sierplante aangevul word. Laasgenoemde groepering van produkte word nou uitgesluit en dit bring die lewensvatbaarheid van die totale boerdery in gedrang.

Dieselfde gebrek aan begrip vir die voedselsisteem in Suid-Afrika was gister tydens Thoko Didiza, die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, se mediakonferensie sigbaar toe die minister aangekondig het dat R1.2 miljard beskikbaar gestel sal word aan kleinskaal- en kommunale boere. Hoewel dié boere ’n groot rol in die armste dele van die land speel om huishoudelike voedselsekerheid in stand te hou, dra hulle weinig by tot die lewering van kos wat in stede op die winkelrakke beskikbaar is. Daarteenoor is slegs R100 miljoen by Landbank beskikbaar gestel vir hul kliënte in die kommersiële sektor wat meer as R126 miljard se versekerde skuld het. Dit is nie naastenby genoeg om eens ’n krap aan die oppervlak van die nood te maak nie.

Boere bly skepties oor die departement se vermoë om met hierdie aangekondigde hulp ’n wesenlike bydrae te maak, gegewe die departement se jammerlike rekord van korrupsie, wanbestuur en ondoeltreffendheid. Daar is steeds weinig hulp van die staat se kant af aan boere wat die afgelope twee jaar deur die droogte op hul knieë gedwing is. Van Saai se lede, wat begunstigdes van grondhervorming is, het sedert 2013 steeds nie die navestigingstoelae ontvang wat hulle in staat sal stel om aan die gang te kom nie, ten spyte van feitlik maandelikse besoeke aan die departement se provinsiale kantore.

Dié lede is meestal kleinskaalboere wat, volgens die kriteria wat Didiza vandag aangekondig het vir hulp sou kwalifiseer, maar uiters skepties is oor die departement se wil en vermoë om hulle te help. Dit spreek uit die talle navrae wat Saai reeds van swart boere ontvang het oor die boereregister waarna die minister verwys. Dié register behoort vir openbare insette op die internet beskikbaar gestel te word aangesien die meeste boere nie eens van die register weet nie.

Alhoewel die minister ook na die lede van kommoditeits- en landbou-organisasies verwys het, het haar departement juis die afgelope maand getoon dat hulle nie eens ’n volledige lys van landboustrukture op hul nasionale databasis het nie. Die proses oor hoe om aansoek te doen en daarna die aansoeke op te volg, moet deursigtig wees en die minister behoort spesiale maatreëls te tref om te verseker dat die administrasie daarvan skoon en korrupsievry sal bly.

Hierdie fondse moet gaan aan boere wat die vermoë het om voedselsekerheid in Suid-Afrika in die volgende ses maande te anker en wat deur die huidige inperkingsmaatreëls gekniehalter word. Saai het reeds ’n aanlyn platform geskep waardeur lede wat kwalifiseer, gehelp sal word om hul aansoeke volledig en betyds te liasseer. Saai sal ook opvolg om skoon administrasie in die departement af te dwing.