Saai verwelkom die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se besluit om weg te doen met die Presidensiële Werkskeppingstimulus (PWS)-hulppakkette wat in die vorm van koeponne geïmplementeer is.
Saai het deurlopend op grond van klagtes van bestaansboere regoor die land gewaarsku dat die stelsel deur polities gekonnekteerde kaders gekaap is, dat dit met korrupsie deurtrek is en nie die uitkomste het wat dit vir die belastingbetaler ’n aanvaarbare belegging maak nie.
Die PWS was ’n program wat die Departement van stapel gestuur het om kleinskaalboere met koeponne vir landbou-insette soos saad, kunsmis, landbouchemikalieë en diesel, in staat te stel om ’n boerdery-inkomste te genereer en ’n lewensbestaan vir hulle gesinne te skep.
Saai glo dat die rede waarom die program so klaaglik misluk het in die verwronge beleidsuitgangspunte van die ANC gesoek moet word.
In plaas daarvan om die koeponne by erkende en gevestigde landbouondernemings in te ruil, is ras en partylojaliteit as kriteria gebruik om ’n klas van middelmanne te skep wat beide wins en kommissie uit die koeponne verdien het. Die Departement erken dat vyf tot 37% van die ontwikkelingshulp in die sakke van daardie middelmanne beland het.
Sommige boere het nooit aan die gang gekom nie omdat die lang verwagte koeponne nooit by hulle uitgekom het nie. Slegs sowat 55 000 van tweemiljoen bestaansboere het enige mate van voordeel getrek. By sommige middelmanne was die kommissie só hoog dat boere nie genoeg insette kon koop om hulle oeste deur te sien nie.
Saai beoog om beide deur die howe en deur opposisiepartye in die parlement meer inligting te bekom oor presies hoeveel geld in die program vermors is en hoeveel sukses gewys kan word.
Bedrog en staatskaping in landbou is nie net ’n ernstige bedreiging vir voedselsekerheid nie, maar hou ’n hele geslag kleiner familieboere arm, onwinsgewend en onkompeterend. Sonder ’n radikale omvorming van die departement en die beleid van kaderontplooiing is geen oplossing moontlik nie. Die ANC het landbou in Suid-Afrika versaak en niemand ly meer daaronder as die klein- en bestaansboere nie.
Saai is intens by landbou-opleiding en landbou – ontwikkeling betrokke vanaf kommunale boere en voorstedelike tuinboerderye tot begunstigdes van grondhervorming en kommersiële swart familieboere. Private inisiatiewe is die enigste alternatief vir ’n staat wat versuim of faal om sy boere, en veral nuwe toetreders tot die bedryf, te help om kompeterend, volhoubaar en winsgewend te word. Dit is egter onmoontlik om die staat se werk te doen sonder ’n staat se inkomste.
Gegewe die omvang van onreëlmatighede, onvermoë en staatskaping in die departement, is ’n oplossing vir die modernisering en kommersialisering van bestaansboere sonder ’n diepsnydende herstrukturering van die amptenary, ’n terugdraai van die gevolge van kaderontplooiing en ’n omkeer van hulle rasbehepte beleid, nie moontlik nie. Tot dan sal elke nuwe program, ongeag die biljoene rande wat daaraan spandeer word, bloot die lys van mislukkings in landelike ontwikkeling en landbou nog langer maak.