fbpx

Saai verwelkom bevestiging dat PPECB nie landbou-uitvoere sal opskort weens SEB-sertifikate

Saai het regsadvies ingewin nadat daar sedert Oktober 2021 kommer heers by uitvoerders van landbouprodukte aangesien die uitvoerbeheerraad vir bederfbare produkte (PPECB) aangedring het dat breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB)-sertifikate ingedien moet word. Saai het ook aan die PPECB geskryf dat die liggaam nie by magte is om op sodanige sertifikate aan te dring nie. Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting is ook ingespan ten einde vas te stel watter kriteria die raad wil toepas in die regulering van uitvoere.

Die PPECB het op 17 Februarie 2022 aan Saai geskryf dat geen landbouprodukte se uitvoer belemmer sal word nie as die uitvoerder nie ’n BBSEB-sertifikaat indien nie. Die raad het ook bevestig dat dit geen kriteria het waar ’n BBSEB-telling ’n oorweging is nie. Die raad het bevestig dat dit tans nie eens ’n konsepkriteria het waar BBSEB ’n rol speel nie.

Volgens Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai, is dit skokkend dat die PPECB familieboere in ’n blik wou druk met vereistes wat geen relevansie het op die raad se besluitneming of funksies nie. “Die PPECB moet hom eerder bepaal by sy werklike pligte, soos om beheer oor produkte se gehalte uit te oefen,” sê Rossouw.

Die uitvoer van landbouprodukte bring waardevolle buitelandse valuta in ’n tyd wat die Suid-Afrikaanse ekonomie dit bitter nodig het.

Saai oorweeg verdere regsaksie om sekere inligting wat steeds deur die PPECB verskans word te bekom in die hoop dat dit die liggaam se werklike motiewe bekend sal maak.

Daar heers nou sekerheid dat daar geen plig op familieboere rus om BBSEB-sertifikate in te dien nie. Saai doen ’n beroep op diegene wat wel sertifikate ingedien het om dit uit protes terug te vra en aan te dring dat die inligting van die PPECB se stelsels verwyder moet word.