fbpx

Saai verteenwoordig tabakboere in hof

Saai het vandag tabakboere se belange verteenwoordig in die saak van British American Tobacco South Africa (BATSA) en nege ander partye teen die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, en twee ander partye in die Wes-Kaapse Hooggeregshof.

Die verbod op die verkoop van tabakprodukte word op twee gronde betwis: konstitusioneel en administratief deur BATSA, wat al die applikante in die algehele waardeketting verteenwoordig.

“As die verteenwoordigers van tabakboere voer ons aan dat Regulasie 45 van die Rampbestuurswet tabakboere ontneem van hul reg om ’n bedryf, beroep of professie te kies, soos vervat in Artikel 22 van die Grondwet van Suid-Afrika,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Tabakboere ly enorme ekonomiese skade omdat boere geen kopers vir hul produk het nie. Dit is ook nie lewensvatbaar om slegs op uitvoere staat te maak nie. Die verwagte verlies aan aksynsbelasting vir die fiskus is ongeveer R35 miljoen per dag.

Hoewel die minister sê dat die regulasies slegs tydelik is en dat handel in die toekoms sal hervat, gee sy geen aanduiding van wanneer dit gaan gebeur nie. Intussen het boere geen manier om hul werksaamhede voort te sit nie en geen skedule waarvolgens hulle beplanning kan doen nie.

“Die inperkingsregulasies moet ten doel hê om die verspreiding van COVID-19 te beperk en om die gevolge daarvan te verlig. Beskikbare data ondersteun glad nie die siening dat ’n verbod op die verkoop van tabakprodukte ’n wenslike impak sal maak in die bereiking van hierdie doelwitte nie,” voeg Rossouw by.

Die saak gaan voort en sal op 6 Augustus 2020 hervat word.