fbpx

Saai verteenwoordig boeremarkte by WFMC

Saai, Suid-Afrika se netwerk vir familieboere, is deur die World Farmers Markets Coalition (WFMC) genooi om boeremarkte in Suidelike Afrika te verteenwoordig. Die WFMC is ’n internasionale sambreelorganisasie vir plaaslike boeremarkte en word deur Campagna Amica, die Italiaanse nasionale landbou-unie Coldiretti se boeremarkvleuel, vanuit Rome geadministreer en gekoördineer. Dié organisasie deel kundigheid, tegnologie, ervaring en idees tussen plaaslike markte waar die afstand tussen die boer en die verbruiker so kort as moontlik gehou word, en waar veral stedelike verbruikers direk aan boere blootgestel word.

Saai is genooi vanweë die organisasie se kundigheid en ervaring in digitale bemarking deur sy aanlyn winkel vir familiewynboere. Die Wynboer is in 2020 uit nood deur Saai begin om kleiner- en medium grootte wynplase se voorraad direk aan verbruikers teen kelderdeurpryse beskikbaar te stel ná die vernietigende gevolge wat die wynverbod tydens die COVID-19-inperkings op die Suid-Afrikaanse wynbedryf gehad het.

Sedert Die Wynboer die kollig op die lot en die unieke staanplek van familiewynboere in die mark laat val het, het OK-winkelgroep ook by die veldtog aangesluit en toegewyde rakspasie aan boetiekwyne van familieplase in sy winkels beskikbaar gestel. Dit is die sukses waarmee Saai in ’n land met groot afstande ’n produk van familiegebaseerde boerderye doeltreffend by die verbruiker uitkry, wat volgens Carmelo Troccoli, voorsitter van die WFMC, vir hulle aantreklik is.

Die WFMC is ’n netwerkvennoot van die Wêreld Landbou-organisasie, waar Saai vroeër vanjaar as verteenwoordiger vir kommersiële boere in Suid-Afrika erkenning gekry en aangesluit het. Iné Bester, operasionele bestuurder van Saai, asook besturende direkteur van Die Wynboer, verteenwoordig Suidelike Afrika op die bestuur van die WFMC, en glo dat die direkte digitale bemarking van landbouprodukte, jaggeleenthede, landboutoerisme en selfs investeringsgeleenthede groot potensiaal inhou.