fbpx

Saai versoek verlenging van amnestietydperk

Die familieboerorganisasie Saai het op 20 Januarie 2021 in ’n skrywe aan die minister van Polisie versoek dat die sperdatum vir amnestie-aansoeke – teen die agtergrond van die tweede vlaag van die COVID-19-pandemie en die ontwrigtende impak daarvan op die SAPD se funksionering – met ’n verdere drie maande uitgestel word.

Die COVID-19-regulasies, vrees vir verspreiding en polisiebeamptes wat weens COVID-19-voorvalle afwesig is, is tans besig om die amnestietydperk vir vuurwapenlisensies in die wiele te ry. Polisiekantore op die platteland het dikwels ’n tekort aan die verskillende voorgeskrewe vorms wat benodig word om vir amnestie aansoek te doen. Beurtkrag en deurlopende instandhouding van stelsels bring ook mee dat rekenaarstelsels gereeld van lyn af is, terwyl die afwesigheid van die nodige beamptes die amnestieproses verder ontwrig.

Saai is bekommerd oor die SAPD se kapasiteit om die amnestie-aansoeke in ’n billike tydperk te verwerk en die korrekte vuurwapens ongeskonde aan die regte eienaars terug te besorg. Sommige Saai-lede moes tot sewe keer na polisiekantore terugkeer en etlike ure wag dat hul aansoeke sonder sukses verwerk kan word. COVID-19 kry meeste van die tyd die skuld hiervoor en dis juis om hierdie rede dat die tydperk vir aansoeke verleng behoort te word.

Een van die grootste struikelblokke is die vereiste dat vuurwapens vir die duur van die amnestieproses by die SAPD ingehandig moet word. Met die hoë landelike misdaadsyfer en toename in plaasaanvalle, veediefstal en stroping van oeste en wild maak dit egter nie sin om boere ongewapend op hul plase vir lisensiëring te laat wag nie. Saai se voorstel dat boere hul wapens moet hou en slegs laat inneem wanneer die SAPD vir ballistiese toetsing gereed is, het tot dusvêr op dowe ore geval.

Vanweë die waarde van vuurwapens en veral duur jaggewere beveel Saai vuurwapeneienaars aan om foto’s van hul vuurwapens te neem as bewys van die toestand waarin die vuurwapens tydens inhandiging was.

As die grootste netwerk eksklusief vir familieboere hou Saai die amnestieproses nougeset dop en staan gereed om die SAPD vir administratiewe geregtigheid en vir die terugbesorging van wapens verantwoordelik en aanspreeklik te hou.

Vuurwapeneienaars wat bekommerd is dat hulle in die amnestieproses tenagekom word, kan Saai by 066 071 6094 skakel.