fbpx

SAAI verheug oor tabak-saak uitspraak

Tabakboere is verheug oor die onlangse Appélhof uitspraak waar die minister van COGTA se appélaansoek van die hand gewys is met kostes maar die finansiele skade wat hulle gely het kan moeilik oorkom word. Tabakproduserende distrikte het groot werksverliese getoon en duisende gesinne is van ’n inkomste ontneem.

“Die hof het bevind dat die minister inbreuk gemaak het op vier van die vyf grondwetlike regte waarop ons gesteun het en dan ook bevind dat vier van die groot redes vir haar beperkinge ingevolge art. 36 van die Grondwet nie geldig was nie,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Niemand in die wettige tabakbedryf het getwyfel dat die verbod op tabakprodukte ongrondwetlik, onsinnig en dramaties verpletterend vir die ekonomie en werkgeleenthede was nie maar die tydsverloop in die reg het groot onsekerheid en wantroue in die bedryf veroorsaak. “Die enigste persone wat by hierdie verbod gebaat het was dié wat by onwettige handel van sigarette betrokke was,” sê dr Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai.

Saai ondersoek tans die moontlikheid om skadevergoeding namens verwerkers, produsente en werkers te eis.