fbpx

Saai skep databank om vuurwapeneienaars in amnestieperiode by te staan

Saai verwelkom die amnestie vir vuurwapeneienaars, veral diegene wie se hernuwingsaansoeke in dikwels chaotiese toestande in SAPD-stasies vertraag is of weggeraak het.

Die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) kan tans nie die normale vloei van hernuwingsaansoeke hanteer nie, en Bheki Cele, minister van Polisie, het dit onlangs erken. Die reuse-agterstande is deels hieraan toe te skryf. Daar heers groot kommer oor die SAPD se vermoë om die amnestie oor die volgende ses maande sinvol te bestuur. Daar is ’n geraamde een miljoen wettige vuurwapens waarvan hernuwingsaansoeke vertraag is en Saai is ook bekommerd oor die huidige eienaarskapstatus van daardie wapens op die SVR.

Die SAPD is intens bewus daarvan dat wettige vuurwapens nie die probleem in Suid-Afrika is nie; tog sloer die SAPD nou reeds jare om ’n oplossing vir die hernuwingsagterstand van vuurwapenlisensies te vind. In sowel die 2005- as die 2010-amnestieperiode is weinig onwettige vuurwapens ingehandig.

Ook in die huidige amnestieperiode is dit grotendeels wapeneienaars wie se hernuwingsaansoeke laat is wat die meeste bevoordeel sal word. Familieboere is egter bekommerd dat laat aansoeke teen hulle gebruik mag word in die vuurwapenbevoegdheidstoets, en Saai wil die minister se onderneming daaroor bekom.

Twee aspekte van Cele se aankondiging in die Staatskoerant stem Saai tot kommer. Die SAPD het ’n swak baanrekord wat vuurwapenbeheer betref en het duisende van hul eie vuurwapens oor die afgelope paar jaar verloor. Teen Augustus 2019 het Cele aangekondig dat daar reeds meer as 500 wapens uit polisiebeampte se hande weggeraak het. Die reëling dat wapens waarvoor lisensieaansoeke ingedien word by polisiestasies ingehandig moet word, laat familieboere bekommerd dat dit, bloot op grond van statistieke, die onveiligste plek daarvoor kan wees.

Boonop is daar geen aanduiding van hoe lank die wapen uit die eienaar se besit sal wees nie, en gegewe die tragiese syfers rondom plaasaanvalle en -moorde en die rol wat parate vuurwapenhantering in selfbeveiliging op plase speel, is familieboere baie skepties oor die sin daarvan om hul wapens onbepaald in te handig. Uit ervaring in veral landelike gebiede vra boere tereg of die SAPD die kapasiteit en bestuursvermoë het om ’n amnestieperiode soos die aangekondigde een suksesvol te kan voltrek. Daar is nie ruimte om al die vuurwapens veilig te stoor nie, en beskadigde vuurwapens gaan onafwendbaar tot omvattende siviele eise lei.

’n Deurslaggewende hofsaak oor vuurwapenlisensies wat die Vuurwapeneienaarsvereniging van Suid-Afrika (Gosa) teen die minister aanhangig gemaak het, word eers in Julie ná die einde van die amnestieperiode aangehoor, wat die tydsberekening van die amnestie verdag maak.

Saai hoop om dringend saam met netwerkvennote met Cele in gesprek te tree oor hierdie en ander besorgdhede. Saai het reeds ’n databank ontwikkel waarheen vuurwapeneienaars wat om amnestie aansoek gedoen het hul besonderhede kan stuur om later opgevolg te word. Stuur jou naam per WhatsApp na Saai by 066 071 6094 om tot die databank gevoeg te word.