fbpx

Saai skenk veeartsenykundige toerusting aan Ruvasa

Saai het die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) se kongres op 9 Mei by Misty Hills Country Hotel in Muldersdrift bygewoon om die skenking van veeartsenykundige toerusting aan hulpbron-arm gemeenskappe aan te kondig.

Ruvasa is ’n spesiale belangegroep van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (Sava). Hulle hoofdoelwit is om ’n leierskaps- en leidingsrol te aanvaar vir veeartsenykundige kwessies wat met vee verband hou. Hulle fokus hoofsaaklik op herkouers en streef daarna om voedselsekerheid en veiligheid te verseker. Ruvasa het ’n groot netwerk van veeartse regoor die land en toegang tot verskeie hulpbronarm-gemeenskappe en ontwikkelende boere.

Tydens die galadinee het Saai in samewerking met Vertice Medical Supplies – ’n afdeling van Vertice Medtech Group, ’n tjek met die voorraadwaarde van R833 222 aan dr Marika Badenhorst, die voorsitter van Ruvasa, oorhandig. Badenhorst het gesê dat hulle met Ruvasa se netwerk en hul veeartse met goeie konneksie saam met Saai kan verseker dat al hierdie voorrade die gemeenskappe bereik wat dit die nodigste het.

“Vertice, ’n betroubare verskaffer en verspreider met meer as 25 jaar ondervinding wat spesialiseer in die invoer, uitvoer en verspreiding van mediese produkte, het Saai met hierdie geleentheid gekontak. Ons was verheug om hierdie projek aan te pak, want ons erken die deurslaggewende rol wat boere speel in die handhawing van ons voedselvoorraad en die belangrikheid daarvan om hul pogings te ondersteun. Deur hierdie toerusting aan die veeartse te verskaf wat saam met hulle werk, hoop ons om ’n positiewe impak op die gesondheid en welstand van hul vee te maak,” sê Marlize Grobbelaar, ’n koördineerder by Saai.

“Die skenking van hierdie toerusting sal veeartse in staat stel om meer omvattende en kostedoeltreffende veeartsenykundige dienste aan boere in ontwikkelende gemeenskappe te verskaf. Dit sal nie net die gesondheid en welstand van die diere verbeter nie, maar dit sal ook bydra tot verhoogde produktiwiteit en winsgewendheid vir boere. Boonop kan die geskenkte veeartsenykundige toerusting ter plaatse in landelike gebiede gebruik word, wat die vervoer van diere na klinieke of fasiliteite uitskakel,” sluit Grobbelaar af.