fbpx

Saai seëvier in eis om grondeise-inligting bekend te maak

Die Hoofgrondeisekommissaris en die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling was onsuksesvol in hul poging om die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) te verhoed om toegang tot inligting oor grondeise in Suid-Afrika te kry. ’n Hofuitspraak en -bevel van 19 September 2023 beklemtoon die departemente se “onbehoorlike gedrag” as die primêre rede vir hul mislukking.

Saai het deur die jare klagtes van boere ingedien wat meen dat die ontwikkeling of potensiële verkoop van hul plase deur ongegronde of stadig bewegende grondeise belemmer is. Opkomende boere in streke soos Mpumalanga, die Oos-Kaap en Limpopo het hulle kommer uitgespreek dat hulle van hul eiendomme afgesit word op grond van ongeverifieerde en twyfelagtige grondeise wat dikwels na bewering deur polities verbonde individue afgedwing word. Gevolglik het Saai die Hoofgrondeisekommissaris en die minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming genader om toegang te verleen tot die omvattende databasis van grondeise wat sedert die inisiatief se ontstaan op 18 Desember 1998 ingedien is.

Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai, sê: “Ons besluit om hierdie inligting te verkry, is gegrond op die noodsaaklikheid om die magdom aansoeke wat blykbaar in staatsdepartemente stagneer te bevestig. Die nadelige impak van ongegronde eise en die trae vordering van grondhervorming deur die Grondeisekommissie benadeel die ontwikkeling van plase, dryf potensiële beleggers weg en ontwrig die landbou-eiendomsmark.”

Op 22 Februarie 2022 het die agbare regter Madiba die minister, in ooreenstemming met Artikel 18 van PAIA, opdrag gegee om Saai van die volgende te voorsien:

  • ’n Elektroniese afskrif van elke grondeis wat tussen 1998 en 2021 in die Staatskoerant gepubliseer is
  • Alle verslae wat van 19 Maart 2019 tot nou deur die Hoofgrondeisekommissaris by die Grondeisehof ingedien is

Saai moes egter op 22 April 2022 ’n klagte van minagting van die hof indien weens die minister se versuim om aan die hofbevel te voldoen. Op 12 Mei 2022 het die minister te kenne gegee dat hulle van voorneme is om die bevel vanaf 22 Februarie 2022 te herroep.

Die daaropvolgende aansoek is op 28 April 2023 voor die agbare regter Yende in die Pretoriase Hooggeregshof beredeneer. Nie die Grondeisekommissaris of die minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming kon hul gesloer met die bekendmaking van die herroepingsaansoek regverdig nie. Hulle is dus opdrag gegee om die koste van die aansoek te dra, insluitend die fooie vir twee advokate.

Saai waarsku dat hulle die betrokke partye van minagting van die hof sal aankla indien die hofbevel nie teen 3 Oktober 2023 nagekom word nie.

Verder het Saai ’n databasis by www.grondeis.org bekendgestel waar boere die grondeise kan sien. Ná ontvangs van die data wat hulle van die Grondeisekommissaris en die minister van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling aangevra het, beplan Saai om ’n streng oudit te doen om vals grondeise te identifiseer en reg te stel.