fbpx

Saai: Registrasie by CIPC ’n kopseer vir familieboere

Saai, ’n organisasie wat die belange van familieboere verteenwoordig, is die afgelope week oorval met oproepe van gefrustreerde familieboere wat verhoed is om verby padblokkades te reis omdat hulle nie Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC)-sertifikate het wat hulle as noodsaaklike diensverskaffers identifiseer nie.

Regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur, 2002, wat die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake uitgereik het, reguleer tans alle aspekte van die staat van inperking en skryf die nodige dokumente voor wat vereis word vir noodsaaklike diensverskaffers om met hul pligte voort te gaan. Ingevolge dié regulasies is die landboubedryf as ’n noodsaaklike diens verklaar en dus van uiterse belang om die land van noodsaaklike goedere te voorsien en voedselsekerheid te verseker.

“Die enigste dokument wat boere nodig het om te reis, is ’n vorm wat ‘substansieel ooreenstem’ met Vorm 1 in Bylaag C van die regulasies en die hoof van die instelling moet dit uitreik. Hiermee word bedoel die eienaar of bestuurder van die boerdery moet dit uitreik,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Om ’n CIPC-sertifikaat by die Kommissie te bekom, moet ’n instelling wat die noodsaaklike dienste verrig, by die CIPC geregistreer wees – ’n vereiste wat nie eenmansake insluit nie.

Die regulasies wat tot dusver uitgereik is, maak nie melding dat noodsaaklike diensverskaffers by die CIPC geregistreer moet wees nie. Dit was ’n vereiste wat Ebrahim Patel, Minister van Handel en Nywerheid, in ’n verklaring aangekondig het. Alhoewel hierdie aankondiging se geldigheid uiters twyfelagtig is, het die departement ’n verklaring uitgereik wat boere van die vereiste CIPC-registrasie onthef sodat hulle met hul noodsaaklike dienste kan voortgaan. Dié verklaring is reeds twee keer uitgereik, maar daar is steeds beamptes by sekere padblokkades wat eis om hierdie dokumente te sien voordat boere hulle reis kan voortsit.

“Hier is ’n duidelike verwarring in kommunikasie tussen departemente – iets wat deur die Departement van Samewerkende Regering die hoof gebied behoort te word. Ons het klagtes ontvang van kleinboere wat die laaste van hul spaargeld moes opdok om aanlyn vir CIPC-sertifikate te betaal – ’n diens wat gratis is – of ’n Vorm 1 Bylaag C-dokument by die padblokkades te koop, iets wat onwettig is,” voeg Rossouw by.

Saai doen ’n beroep op die Departemente van Handel en Nywerheid, van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake om hul amptelike standpunte te belyn en op grondvlak oor te dra aan die SAPD en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sodat die landboubedryf onbelemmerd kan voortgaan met hul kritieke taak.

Saai versoek dat enige boere wat probleme ondervind of onwettige aktiwiteite by padversperrings ervaar, dit aanmeld by Saai se WhatsApp-lyn 066 071 6094 sodat die nodige aksie geneem kan word.