fbpx

Saai neem plek op die wêreldverhoog in

Die familieboerenetwerk Saai het die groenlig gekry om by die Wêreld Landbou-organisasie die stem van kommersiële boere van Suid-Afrika te verteenwoordig. Die WLO bestaan uit 86 nasionale landbou-unies op ses kontinente en neem deel aan beraadslagings van die VN en sy agentskappe, die Wêreld Ekonomiese Forum en ander internasionale geleenthede. Saai sluit by die African Farmers’ Association of South Africa (AFASA) aan as die enigste Suid-Afrikaanse landbou-organisasies wat by die WLO verteenwoordig is.

Die WLO se fokus is op agt beleidskomitees wat standpunte ontwikkel en wêreldwyd onder boere uitklaar om aan globale instansies te stel: oor handel, kooperasies, opleiding en jeug, vroue, klimaat en biodiversiteit, tegnologie en digitalisasie, veeteelt en dieregesondheid, en intellektuele eiendomsreg en planttelersregte.

Die WLO het ook ’n wetenskaplike raad waarop twee Suid-Afrikaners dien: Prof. James Blignaut van die Universiteit van Stellenbosch en die ekonoom Dawie Roodt.

Saai is ’n landboubelangenetwerk wat net op familieboere fokus. Dit is die wêreld se eerste “oop-ekonomie” landboustruktuur wat al sy aktiwiteite wat verder as beleidsbeïnvloeding gaan, in netwerkvennootskappe implementeer. So is Saai ingebind in aksiegerigte netwerkvennootskappe met eendersdenkende organisasies wat handel oor onder andere arbeidsaangeleenthede, landbou-ontwikkeling, veiligheid en burgerregte, opleiding en landboujeug.

Saai het lank reeds goeie netwerkverhoudinge met landbou-unies elders in die wêreld soos die CFU in Zimbabwe, NAK in Hongarye en AKKOR in Rusland, en administreer ’n aantal beurse vir verdienstelike landboustudente aan buitelandse universiteite.

Die voorsitter van Saai se direksie, Dr Theo de Jager, is sedert 2017 die president van die WLO maar verteenwoordig die Zimbabwese boere aldaar.