Die ANC se jongste skuif om die hele eiendomsklousule (artikel 25) van die Grondwet te verander, is verwag en was dus nie ’n verrassing nie. Die ANC was nog nooit eerlik in sy poging om die Grondwet te verander nie, net soos hy ook nie eerlik was met optrede teen staatskaping, plundery of korrupsie onder sy kaders nie.
Ons hier by Saai, ons netwerk vir familieboere, is al deur verskeie buitelandse regerings en joernaliste gewaarsku dat die ANC veel meer beoog as bloot ’n onskuldige poging om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, om duidelik te maak waarvoor artikel 25(3) reeds voorsiening maak.
Die oneerlikheid van die ANC blyk uit sy voorneme om regsoewereiniteit te ondermyn, en daardeur die oppergesag van die reg te ondergrawe deur nou te probeer om die howe se bevoegdhede te beperk in pogings om onteiening sonder vergoeding te implementeer.
Die fundamentele oneerlikheid blyk ook uit die wyse waarop die voorsitter van die onteieningskomitee sowel die doel as die bestek van die ondersoek na die voorgestelde wysigings verander deur ver buite die bestek van die prosedures van die parlement of die reg te beweeg om op die hele artikel 25 te fokus.
Uit samesprekings met ambassades en buitelandse regerings is dit duidelik dat die manier hoe die komitee die program van openbare deelname hanteer, geweldige agterdog gewek het reeds toe die komitee eensydig besluit het om alle skriftelike voorleggings buite rekening te laat. Skriftelike insette het nie net die meerderheid van die voorleggings uitgemaak nie maar het ook meesal van beleggers, die sakegemeenskap, professionele mense en werkgewers gekom, terwyl die mondelinge voorleggings meesal afkomstig was van anonieme mense wat van iewers met busse aangery is na obskure lokale ver van stadsentrums af wat moeilik was vir sake-eienaars om te bereik.
Dit is nie net Suid-Afrikaners wat die voorneme opgemerk het om dit so moeilik as moontlik te maak vir die belegger/werkgewersgemeenskap om die verhore by te woon nie, en diegene wat dit wel bygewoon het, is dikwels die geleentheid ontneem om hulle sê te sê.
Mathole Motshekga hanteer die openbare verhore dikwels asof dit ’n referendum is, terwyl sowel die ANC as die EFF busvragte vreemdelinge na die verhore aangery het wat meesal nie geweet het waaroor die byeenkomste gaan nie en wat vooraf voorgesê is wat om te sê. Veels te dikwels het hierdie T-hemp-bendes hulle nie beskaafd gedra nie en gegil en slagspreuke geskreeu wanneer iemand wat standpunt teen onteiening sonder vergoeding inneem, aan die woord gekom het. Die parlementariërs het nie moeite gedoen om diegene wat vir die oppergesag van die reg of die Universele Verklaring van Menseregte praat te beskerm nie, en het deugniete toegelaat om op die wanordelike wyse op te tree wat die kenmerk van die ANC en die EFF se politieke aktiwiteit geword het.
2021 is ’n verkiesingsjaar, en die ANC het niks om kiesers mee te lok nie. Hy het feitlik alle staatsbeheerde ondernemings en diensleweringskapasiteit in die staat vernietig. Hy het die ekonomie verwoes en sy kaders het ons land tot bankrotskap besteel en geplunder. Hy het geen beter opsie nie as om populistiese politiek te bedryf, soos grondgrype soortgelyk aan wat ZANU-PF sedert 2000 in Zimbabwe doen.
In een opsig was Motshekga reg, toe hy aangehaal is dat hy sê die ANC en sy leiers het nie ’n monopolie oor wysheid nie en dat hulle na die mense moet luister. Hy moet ’n lessie in Zimbabwe gaan leer en na die banke, beleggers, werkgewers en sakeondernemings luister. Hy het geen wetenskaplike of morele rede om te glo dat onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika minder gaan kos as die verwoestende koste wat dit in Zimbabwe het nie.
Saai is vas oortuig dat die ANC die helfte van alle Suid-Afrikaners ontneem van hulle verbintenis tot en respek vir ons Grondwet. Wanneer die ANC sy sin kry met die Grondwet, sal daar geen motivering vir nie-kommuniste wees om die Grondwet te steun nie.
Saai het briewe aan die meeste van die ambassades in Suid-Afrika geskryf om hulle oor die ANC se voornemens in te lig en om groter bewustheid te skep van hoe die ANC se agenda strydig is met Artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte. Hulle regerings se steun word gevra vir optrede teen die ANC by die Verenigde Nasies.