fbpx

SAAI loods ’n nuwe studiebeurs: Nasionale Sertifikaat in Plantproduksie – Cannabis & Hemp

Die toenemende momentum in die Suid-Afrikaanse cannabis en hennep (hemp) industrieë bied geleenthede om minderbevoorregte persone by hierdie mark te betrek. Vroeër vanjaar het Cheeba Cannabis Academy, ’n leidinggewende onderwys- en opleidingsinstansie in Afrika, met die aanlyn landbou opleidingskollege AGRICOLLEGES international saamgespan en ’n AgriSETA geakkrediteerde “National Certificate in Plant Production – Cannabis and Hemp” (NQF Vlak 4; SAQA ID: 49009) bekend gestel.

Die twee instansies het met die familieboerdery netwerk SAAI (Suider-Afrika Agri Inisiatief), wat meer as 9,000 familieboerderye verteenwoordig, ’n ooreenkoms gesluit vir die toekenning van ’n jaarlikse beurs vir die bekostiging van die kursus. Die bedoeling is dat die beurs twee studente uit minderbevoorregte gemeenskappe wat in cannabis en hennep verbouing in Suid-Afrika belangstel sal bevoordeel. Die kursus word per internet gedoen en strek oor ’n jaar met tien Zoom-gebaseerde lesings en 35 uur se studie per week. Die voordeel vir studente is dat hulle vanaf enige plek in Suid-Afrika via Zoom by die kursus kan inskakel. Teen die einde van die kursus sal studente ’n praktiese ervaring van sewe dae op ‘n cannabisplaas deurloop.

Bogenoemde besluit spruit voort uit die huidige parlementêre debat met betrekking tot wetgewing oor die Suid-Afrikaanse cannabis industrie. Verskeie kommersiële cannabisplase is reeds besig om medisinale cannabis onder regulering van SAHPRA (South African Health Products Regulatory Authority) te verbou, terwyl DALRRD (Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development) onlangs henneplisensies aan boere begin uitreik het.

Die beurs dek die volledige koste vir die jaarlange kursus, asook vervoer, kos en akkommodasie vir die sewedaagse praktiese plaaservaring. Suksesvolle kandidate moet toegang hê tot hulle eie digitale toerusting, voldoende internet verbinding en ook genoeg data vir die Zoomlesing van twee ure per maand.

Minimum vereistes is soos volg:

–           Applikante moet Suid-Afrikaanse burgers vanuit agtergeblewe gemeenskappe wees.

–           Applikante moet 18 jaar of ouer wees.

–           Applikante moet oor ‘n graad 10 of gelykwaardige kwalifikasie beskik.

–           Applikante moet ‘n goed deurdagte essay van 2,000 woorde verskaf waarin hulle beskryf wie hulle is en waarom die beurs aan hulle toegeken behoort te word.

–           ‘n Curriculum vitae moet die applikante se aansoeke vergesel.

Hierdie voltydse program bied aan studente geleenthede om bekend te raak met die bestuur en operasionele aspekte van ’n plaas, spesifiek gefokus op die produsering van plante in die cannabis en hennep industrie. Die doel van die program is om studente met toepaslike vaardighede toe te rus om hulle eie cannabis- en hennepplase op klein skaal te begin. Tegelyk stel die program ook persone wat daarin belangstel om in hierdie industrie te werk in staat om hulle geskiktheid vir indiensneming te verhoog.

Linda Siboto, medestigter en direkteur van Cheeba Cannabis Academy, verwoord hulle betrokkenheid soos volg: “Ons is trots daarop om in vennootskap met SAAI te wees en hierdie unieke geleentheid aan ons mense te bied. Cannabis word wyd bespreek en dit is vir ons belangrik dat niemand agtergelaat word nie en dat geleenthede aan minder bevoorregte mense gebied word om armoede te verlig en werksgeleenthede te skep.”

Die hoof uitvoerende beampte van SAAI, Francois Rossouw, deel dieselfde sentiment as Siboto en stel dit soos volg: “Ons is opgewonde oor die groeiende cannabis en hemp industrieë en die geleenthede wat daaruit voortspruit vir ons plaasgemeenskap. Ons moet egter hierdie geleentheid aangryp om ons minderbevoorregte gemeenskappe op te hef en is trots daarop om hierdie studiebeurs in vennootskap met Cheeba en Agricolleges as ’n stap in daardie rigting te loods.”

Aansoek kan voltooi word by:

https://cheebaafrica.com/pages/cheeba-academy-scholarships