fbpx

Saai loods kunsmatige-intelligensieplatform vir familieboere

Saai het die wêreld se eerste kunsmatige-intelligensieplatform vir familieboere geloods. Die WhatsApp-gebaseerde platform Hi Saai gebruik biljoene datapunte op die internet om binne minute ’n komplekse raamwerk te ontwikkel waarbinne ’n volledige antwoord op ’n stel plaasverwante vrae gegee word.

“Daar is net een manier waarop die wêreld se kleinboere en mediumgrootte boere gaan oorleef in ’n omgewing waar groot korporatiewe groepe en multinasionale maatskappye algaande primêre produksie begin oorneem, en dit is met behulp van die beste digitale tegnologie. Die plaas van die toekoms sal bestuur word met Groot Data, robotte, hommeltuie en satelliete, die Internet van Dinge, blokkettingtegnologie, en veral kunsmatige intelligensie (KI oftewel AI). As ’n netwerk vir familieboere is dit Saai se missie om hierdie tegnologie binne bereik van elke plaasgesin te bring,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Hi Saai leer uit sy eie ervaring en navorsing en verbeter homself. Dit is nog in die ontwikkelingsfase en ’n al groter groep boere word daarby betrek om haakplekke uit te stryk. Binne enkele weke sal Hi Saai as ’n gratis bestuurshulpinstrument vir elke boer in Suid-Afrika beskikbaar wees voordat dit elders in Afrika en wêreldwyd uitgerol word. “Deur ons aktiewe betrokkenheid by die Wêreld-landbou-organisasie en die VN se Dekade van Familieboedery wil ons seker maak dat organisasies soos Saai wat hulle vir die belange van familieboere beywer eerste dié gaping vul en eienaarskap van die tegnologie neem,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai is reeds in gesprek met landbou-unies oor die wêreld heen om die platform so wyd as moontlik beskikbaar te stel.

“Die verste, kleinste, en armste boere kan die beste beskikbare advies van Hi Saai kry as hulle ’n internetverbinding het,” sê Rossouw.

In die eerste rondtes van die toetsfase van Hi Saai is heelwat uitdagings uitgepluis, en hoewel die platform gereed is om in die openbare domein geplaas te word, verwag Saai se tegnologiespan dat onvoorsiene haakplekke met groter verkeer oor die platform kan opduik.

Hi Saai plaas die heel beste kundigheid en inligting wat beskikbaar is binne bereik van elke boer. Dit verskuif die horisonne van landboutegniese adviesdienste en dek elke dimensie van boerdery – van sakeplanne, finansiële advies en meganisasie tot chemiese toedienings produksiebeplanning, bemarking en programmering.

Hi Saai is ’n superkonsultant sonder die rekening, ’n voltydse raadgewer-analis sonder die salaris, en ’n vennoot sonder die winsdeling.