fbpx

Saai loods grondeis.org

Grondeise kan ’n plaas lamlê. Duisende grondtransaksies, finansieringsaansoeke en planne om te ontwikkel of uit te brei, is al deur grondeise gekelder, en dit het Suid-Afrika onberekenbaar baie aan werkgeleenthede en plattelandse ontwikkeling gekos. Daarom het die familieboernetwerk Saai vandag die grootste digitale grondeisedatabasis bekendgestel. Hierdie webblad maak dit vir gebruikers moontlik om hul grondeisstatus binne ongeveer 20 sekondes self te bepaal.

Die databasis bestaan uit alle staatskoerante sedert 1998 waarin enigiets gepubliseer is oor grondeise of beweerde grondeise, soos voorgeskryf deur artikel 11(1) van die Wet op die Herstel van Grondregte (No. 22 van 1994). Buiten die feit dat dit gebruikers toegang gee tot ’n databasis van grondeise wat reeds in die staatskoerant gepubliseer is, kan dit ook ’n versoek aan die betrokke provinsiale grondeisekommissaris stuur om uit te vind of daar ’n eis op ’n gebruiker se grond is wat nog nie gepubliseer is nie. Dit stoor ook alle soektogte en inligting sodat ons gebruikers dadelik in kennis kan stel indien daar in die toekoms ’n eis opduik.

“Hierdie databasis is deel van ’n omvattende, jare lange strategie om deursigtigheid en orde rakende die grondeiseproses af te dwing. Saai stel hierdie databasis beskikbaar aan die breë publiek omdat dit in die beste openbare belang is,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Tot vandag het die departement nog nooit ’n volledige lys bekend gemaak van al die eise wat ingedien is nie. Daarom het Saai op 4 Mei 2021 ’n PAIA-versoek aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) gestuur en versoek dat hulle ons voorsien van afskrifte van elke grondeis wat vanaf 1998 tot 2021 in die staatskoerant gepubliseer is. Volgens die DALRRD sou dit “moeisaam” wees om aan die versoek te voldoen en hulle het verdere skrywes bloot geïgnoreer. Op 21 Februarie 2022 het Saai ’n hofbevel gekry wat die DALRRD verplig om die inligting aan Saai te voorsien. Die departement het egter tot nog toe nie gehoor gegee aan die hofbevel nie, daarom stel Saai ’n minagtingsaansoek teen minister Thoko Didiza in.

“Die onsekerheid en verminkende implikasies wat ’n chaotiese grondeisekantoor op landbou het, is onbekostigbaar en soos in vele ander sektore van die ekonomie is daar vir Suid-Afrika nie meer ’n ander alternatief as om deur die howe beter dienslewering en bestuur af te dwing nie,” sê dr. Theo de Jager, uitvoerende hoof van Saai.

Die platform is gratis beskikbaar vir lede van die publiek by https://bit.ly/grondeis. Die volgende fase van die platform sal ook huurarbeidereise bevat.