fbpx

Saai in hof teen SAPD-kommissaris oor 50 000+ vernietigde vuurwapens

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is op 5 Februarie in die Hooggeregshof in Pretoria om die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om bewyse te verskaf dat vernietigde vuurwapens onderwerp was aan die Geïntegreerde Ballistiese Identifikasiestelsel (IBIS).

Dit volg nadat dié vraag in twee formele aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) van Saai onbeantwoord gebly het, asook in die interne appèlle wat daarna gevolg het. Die eerste PAIA-aansoek (7 Februarie 2022) was in reaksie op die 24 901 vuurwapens wat op 8 Julie 2021 vernietig is. Die tweede PAIA-aansoek (3 Julie 2022) was bemoei met die verdere 26 002 vuurwapens wat op 10 Maart 2022 vernietig is.

Die respondente in die saak is die nasionale kommissaris van die SAPD, die minister van Veiligheid en Sekuriteit en die nasionale adjunk-inligtingsbeampte.

“Saai dring daarop aan om te weet of hierdie massas vuurwapens deur die nodige toetse was voordat dit vernietig is. Vuurwapens is in baie gevalle bewysstukke van misdade en daarom kan ons, met die dreigende kwessie van plaasveiligheid, nie toekyk dat dit sonder die nodige toetsuitslae vernietig word nie,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Indien die SAPD vuurwapens vernietig sonder om seker te maak dat daardie vuurwapens nie in misdrywe gebruik is nie, is die SAPD aandadig tot die misdade. Dit is voorts kommerwekkend dat die SAPD jaarliks tienduisende vuurwapens verloor wat in die hande van misdadigers beland. Die kwessie rondom vuurwapens is dus iets wat volgens Saai geensins ligtelik opgeneem kan word nie.