fbpx

Saai help begunstigdes van die herverdeling van landbougrond

Saai staan ’n aantal van sy lede wat begunstigdes van die herverdeling van landbougrond is by om eienaarskap van hulle huurplase te kry. Die grondhervormingsprogram in Suid-Afrika het klaaglik misluk en die staat het, ten spyte van biljoene rande wat oor die afgelope 28 jaar daaraan spandeer is, nog nie daarin geslaag om ’n klas winsgewende swart boere te skep nie.

Volgens dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is begunstigdes van die herverdelingsprogram gedoem tot ewige bywonerskap omdat hulle hul grond van die staat moet huur. Hulle is uitgelewer aan die nepotisme, wanadministrasie, bedrog en ondoeltreffendheid van die staat, wat dit byna onmoontlik maak vir ’n swart boer om kommersieel te presteer en ‘n sukses van sy boerdery te maak.

Whiskey Kgabo, wat al 38 jaar lank in die Letaba-distrik boer, word daagliks deur betreders getreiter en die polisie weier om op te tree omdat die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling volgens hulle die probleem geskep het en dit moet oplos. As huurder van staatsgrond kan hy nie miljoene rande in omheining en sekuriteit op die plaas belê nie, want hy weet nie of hy op die plaas gaan bly nie. Hy moet eers sekerheid van verblyf op die plaas bekom deur dit te koop voordat hy sekuriteit vir landboufinansiering kan bekom.

Vuyani Zigana is al talle kere van een plaas na ’n ander verskuif óf omdat die departement sy huurplaas vir ’n goed ingeskakelde kader wil gee, óf omdat nog ’n aantal ander begunstigdes dieselfde plaas moet deel en die amptenare nie van die bestaande huurders weet nie.

Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, is onsekerheid oor die hernuwing of integriteit van die staat se huurkontrakte een van die belangrikste hindernisse in die weg van suksesvolle ontwikkeling van boere. “Landbou is ’n langtermynbelegging,” sê hy. “Privaateienaarskap van landbougrond is die algemeenste element wat suksesvolle landboulande in gemeen het en lê aan die basis van beleggingsaantreklikheid en welvaartskepping.”

Johannes Bezuidenhout, wat in die Moordenaarskaroo naby Beaufort-Wes boer, is moedeloos met die administratiewe rompslomp in die departement. Hy wag al tien maande dat die verlenging van sy huurkontrak bekragtig word, maar die provinsiale amptenare teken dit nie af nie. Hy kan nie verder boorgate sink, krippe bou of uitbrei nie omdat amptenare al geskimp het dat hulle ’n deel van sy plaas aan iemand anders wil gee.

De Jager sê eienaarskap van plase is deurslaggewend vir die suksesvolle ontwikkeling van boere. ’n Plaas is ’n besigheid, en soos in enige ander besigheid is beleggersekerheid nodig. Die boer is die belangrikste belegger op ’n plaas, en as hy nie sekerheid van grondgebruik het nie, ly die boerdery en die plaaslike ekonomie daaronder. Daarom plaas Saai toenemende druk op die staat om aan opkomende boere titelaktes te gee of om hulle toe te laat om hulle plase te koop.