Saai: Grondbevoordeeldebeleid loop grondverdelingsdebat vooruit

Saai – ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm – het kommentaar ingedien op die konsep van die nasionale beleid vir die keuring van bevoordeeldes en grondtoekenning (NBKBG), wat op 2 Maart 2020 gesluit het. Dié beleidskonsep is op 3 Januarie 2020 gepubliseer, terwyl die voorgestelde wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet steeds oop is vir openbare kommentaar.

Dié beleid poog om te bepaal wie as bevoordeeldes vir grondverdeling kwalifiseer. Dit is interessant dat die beleid spesifiek voorsiening maak vir moontlike grondverdeling aan eggenote van staatsamptenare, munisipaliteite en eiendomsontwikkelaars. Grond wat toegeken word, sluit grond in wat deur banke teruggeneem is, asook grond wat in die oop mark bekom is. Die beleid swyg egter oor watter vergoeding (indien enige) betaal sal word vir grond wat in die oop mark bekom is.

Grondtoewysing sal deur ’n sogenaamde nasionale, asook provinsiale grondtoekenning-en-keuringspanele behartig word. Dispute oor grondtoekenning sal nie aan onafhanklike beslegting onderworpe wees nie, maar deur die direkteur-generaal en die minister besleg word.

“Dit blyk dat die beleid die grondverdelingsdebat wat tans in Suid-Afrika woed vooruit loop, omdat dit op die aanname gebaseer is dat die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet ’n uitgemaakte saak is,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Saai se voorlegging is gebaseer op die volgende drie kommerpunte:

  1. Die NBKBG identifiseer nie uitdruklik die minister se bevoegdheid om die NBKBG te publiseer nie;
  2. Die NBKBG stel nie voedselsekerheid as beleidsdoelwit nie en is dus arbitrêr; en
  3. Die NBKBG is irrasioneel omdat die beleid wat daarin uiteengesit is nie redelikerwys die beleidsdoelwitte kan bereik wat in die NBKBG uiteengesit is nie.