fbpx

Saai en TLU teken samewerkingsooreenkoms

Saai en TLU SA het op 8 Desember 2022 ’n ooreenkoms onderteken om samewerking tussen dié twee organisasies te verbreed, te verdiep en te versterk.

TLU SA is die oudste landbou-unie in Afrika en organiseer boere al sedert 1897. Saai is in 2019 as ’n netwerk vir familieboere geloods in die raamwerk van die Verenigde Nasies se dekade vir familieboere. Voor die loodsing van Saai is daar deur ’n reeks werkgroepsessies verseker dat die waardes en beleidsvertrekpunte van TLU SA en Saai belyn is om samewerking aan te moedig.

Die ooreenkoms is geteken as uitvloeisel van die gedeelde fokus en waardesisteem waaruit daar reeds verskeie beleidstandpunte, projekte en posisies ontstaan het waar TLU SA en Saai hande gevat of kragte saamgesnoer het om ons boere se belange te beskerm, te bevorder of uit te bou. Druk op die staat en die ondertekenaars om die landboumeesterplan meer inklusief en realisties te omskryf, op Landbank om aggressiewe uitwinnings teen boere te stop, of die uitrol van sonkrag om boere se kwesbaarheid teen beurtkrag te beperk is enkele voorbeelde daarvan.

Gesamentlike standpuntinname en projekte tussen die twee organisasies bring in getalle die grootste stem van boere op een platform byeen. Die krag van verteenwoordigende getalle is belangrik in beleidsbeïnvloeding en die daarstelling van burgerlike alternatiewe waar die staat die landbousektor faal beide in die beleidsomgewing en dienslewering.

Vir Saai en TLU SA is die ontwikkeling van jongboere ’n prioriteit. Die twee organisasies stel dit in die vooruitsig om mekaar se inisiatiewe te ondersteun om jongboere en aspirant boere te bemagtig.