fbpx

Saai en Santam sink boorgate in Oos-Kaap vir droogtehulp

Die landbounetwerk vir familieboere Saai en Santam het vanjaar saamgewerk om meer volhoubare droogtehulp aan die boere in die Oos-Kaap te bied. Sowat 36 boorgate is sedert Mei vanjaar in die Steytlerville-omgewing geboor waarvan 23 suksesvol water opgelewer het. Die volgende stap is om sowat 24 boere in Willowmore toe te rus met boorgate.

Ondanks die reën wat ruim die afgelope maand in groot dele van die land geval het knou die droogte van die afgelope paar jaar steeds die boere van die Oos-Kaap. Daarom is dit vir Saai en Santam belangrik om hierdie boorprojek voort te sit om die boere toe te rus met die nodige water wanneer die reën weer wegbly.

“Santam wil ’n verantwoordelike onderneming wees en meer as net versekering doen. Ons het ’n verantwoordelikheid om te help bou aan veerkragtige samelewings en om ’n lewendige landbousektor vir boere te help stimuleer. Die landboubedryf staar talle uitdagings in die gesig en ons wil met ons bydra en ondersteuning ons waardering aan die sektor wys,” sê Hanlie Kroese van Santam.

“Saai het hierdie jaar baie tyd in die Oos-Kaap deurgebring en deurentyd voer- en kospakkies afgelewer asook ’n paar video’s gemaak om mense bewus te maak van hierdie dorpies. Hierdie video’s was nie net om te wys hoe swaar hierdie gemeenskappe onder die droogte kry nie maar om ook te wys wie die mense van hierdie omgewing is en hoe ongelooflik spesiaal hierdie dorpe is,” sê Iné Bester, operasionele bestuurder by Saai. “Toe ons verteenwoordiger in die Oos-Kaap Bertus Griebenow, met ons gesels het oor hierdie projek het ons nie gehuiwer om betrokke te raak nie. Niemand weet wanneer die reën weer gaan kom nie en intussen moet mens alles in jou mag doen om te keer dat hierdie boere nie ondergaan nie. By Saai dra ons elke familieboerdery op die hart.”

“Water was nog nooit ’n probleem op my plaas nie, maar die afgelope jare het die watertafel merkbaar gesak en sommige gate het heeltemal opgedroog,” sê Colin Wilken, ’n boer van Steytlerville. “Dit was ’n absolute verligting toe Saai se Bertus Griebenouw en Santam aangebied het om die boere te help om water aan te wys en gate te boor.”

Die boere het hul dank teenoor Saai, Santam, Bertus Griebenow, Hennie Nel (boorder) en BKB uitgespreek.