fbpx

Saai eis antwoorde by SAPD oor betredings

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) neem aksie teen toenemende voorvalle van betreding. Hierdie landboubelangenetwerk het ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gestuur om meer inligting en statistieke oor betredings te bekom.

Die SAPD word hierdeur gedwing om verslae en statistieke oor die aantal gerapporteerde voorvalle van betreding te verskaf. Hulle moet ook ’n opsomming van die aantal polisieondersoeke, wat per provinsie ná voorvalle van betreding gedoen is, beskikbaar stel. Saai soek ook antwoorde oor die aantal vervolgings wat teen betreders ingestel is, die skuldigbevindings teen betreders en die vonnisrekords van betreders.

“Saai wil hierdeur die ondoeltreffendheid van die SAPD se maatreëls om betreding te voorkom, aan die kaak stel,” sê Theo de Jager, Saai se uitvoerende direkteur. “Daarom dwing Saai die SAPD om ook hul beleide, riglyne en direktiewe om betreding hok te slaan, te verskaf.”

Hierdie PAIA-aansoek vorm deel van die voortgesette druk wat Saai wil toepas om hul beleidsbeïnvloeding – oor die kwessie van betreding – te laat slaag. Daar is ’n toename in voorvalle van betreding en grondgrype, terwyl Saai meen dat daar ook toenemende mislukking deur die SAPD is om hierteen op te tree. Betredingswette moet volgens Saai opgeskerp en strenger toegepas word en daarom neem hy regsaksie om die owerhede aanspreeklik te hou om wet en orde te handhaaf.

“Dit is ons missie om ons lede se regte te beskerm en daarom neem ons aksie teen die toenemende voorvalle van betreding van privaat eiendom. Die skendings van eiendomsreg en persoonlike sekuriteit wat met sulke voorvalle bedreig word, gee rede tot kommer en ons wil vir familieboere intree,” sluit De Jager af.

Daar is in 2022 ’n konsepwet, naamlik die Onregmatige Toegang tot Persele-wetsontwerp, deur die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste voorgestel. Dit is egter nog nie na die parlement gestuur nie, dus geld die Betredingswet van 1959 nog.