fbpx

Saai-direksievoorsitter beloon vir rol in landbou

Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie en direksievoorsitter van Saai, het ’n toekenning by die Pan African Farmers Organisation (Pafo) ontvang vir sy rol in die versterking van die organisasie, die uitbreiding van die omvang van landbou-organisasies in Afrika en die bevordering van die belange van boere in voorspraak en veldtogte.

Dr. De Jager was van 2014 tot 2017 Pafo se president en het hom verbind tot Addis Abeba in Ethiopië om met die Afrika Unie se beleidmakers in gesprek te tree oor sake soos verblyfsekerheid, eiendomsreg, infrastruktuur, handel en die kommersialisasie, modernisasie en meganisasie van kleinskaalboerdery in Afrika.

Gedurende sy tydperk as president van Pafo het hy ook ’n kontinentale veldtog van stapel gestuur oor die bevordering, beskerming en bewaring van inheemse vee rasse in Afrika. Hy was die eerste Suid-Afrikaanse boer wat tot president van Pafo verkies is en is genomineer deur die Southern African Confederation of Agricultural Unions (SACAU) waarvan hy van 2012 tot 2017 president was.

Sy getroue ondersteuning van nasionale landbou-organisasies in Afrika het aan hom die basis gebied om in 2017 in Helsinki, Finland, as die president van die Wêreldlandbou-organisasie verkies te word nadat hy deur die Commercial Farmers Union (CFU) van Zimbabwe genomineer is.

By die CFU-kongres in Harare op 18 November 2021 het De Jager ook die prestige Landbou Oscar-toekenning ontvang as erkenning vir sy rol om die lot van Zimbabwiese boere in die internasionale kollig te plaas en om druk toe te pas vir vergoeding vir boere wat sedert 2001 slagoffers was van omstrede grondgrype.

Volgens De Jager is hy baie geëerd om dié twee toekennings te ontvang en glo hy dat landbou-organisasies in Afrika ’n leidende rol speel in die vorming van globale beleide oor voedselstelsels om die speelvlak in internasionale handel gelyk te maak en in die stryd teen armoede en hongersnood. Die werklike beloning vir sy betrokkenheid in georganiseerde landbou in Afrika en die wêreld is die netwerk van vriende op plase in elke hoek van die wêreld, sê De Jager.