fbpx

Saai dien klagtes in ná buitensporige staatspensioenfondstransaksie

Saai – ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm – het vandag namens een van hul lede klagtes by die Brooklyn-polisiestasie ingedien nadat die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) R586,5 miljoen betaal het vir ’n 60%-aandeel in ’n stuk landbougrond van 1 028 ha.

Die lid van Saai, Jaco Engelbrecht, is ’n deeltydse boer en onderwyser van Koffiefontein wat maandeliks tot die GEPF bydra. Saai het ook die saaknommer aan die Valke se eenheid vir ernstige misdaad deurgegee.

Dié transaksie het onder Saai se aandag gekom nadat ’n advertensie in Landbouweekblad se uitgawe van 31 Januarie 2020 gepubliseer is. Dit is aanvanklik geadverteer dat plase IP (564) met 481 ha en Palmietfontein (403) met 547 ha albei deur die GEPF gekoop is. Die titelakte dui egter aan dat die GEPF slegs 60% van erfdeel 97 van Palmietfontein (403) en IP (564) teen ’n waarde van R586,5 miljoen gekoop het.

Die stad Motswala het erfdeel 97, wat 547 ha beslaan, in 2007 vir ongeveer R10 miljoen aan Isago@N12 Development Pty Ltd verkoop. Die stad se 2016/2017-waardasierol toon die eiendom was in dié stadium vir R16,55 miljoen gewaardeer. IP (564) is in 2007 vir R8,75 miljoen in dieselfde transaksie gekoop en die stad se 2018/2019-waardasie vir die grond was R8,97 miljoen.

Volgens die titelakte is 60% van albei plase op 27 Junie 2019 as landbougrond aan die GEPF verkoop teen ongeveer R586,5 miljoen.

“Daar is ’n 2 198%-prysverskil tussen die waardasiepryse en die prys waarteen die pensioenfonds dié grond vir staatsamptenare aangekoop het. Dit is leë landbougrond wat gekoop is met die oog op verdere ontwikkeling. Die GEPF is ’n entiteit wat regeringsamptenare se pensioenfondse eerlik en verantwoordelik moet bestuur. Om so ’n reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal, kan vir seker nie as eerlik óf verantwoordelik beskou word nie,” meen Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Isago Holdings Pty Ltd het ’n 40%-aandeel van die erfdeel 97-ontwikkeling ontvang, teen nul rand. Met die staatspensioenfondstransaksie is die waarde van hul aandele nou R340 miljoen,” voeg Rossouw by.