fbpx

Saai dien aansoek in by Hooggeregshof namens wildboere

Saai, ’n organisasie wat die regte en belange van familieboere – insluitend wildboere – beskerm, het vandag ’n dringende aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die verbod op reis tussen provinsies vir bestaansjagdoeleindes op te hef.

Die aansoek is namens 368 wildplaaseienaars en -operateurs ingedien en het ten doel om voorskrifte 2, 3(a) en 3(b) van die gewysigde riglyne wat betrekking het op die biodiversiteitsektor tersyde te stel, wat op 28 Julie 2020 in Staatskennisgewing no. 822 in Staatskoerant no. 43564 gepubliseer is, asook die wysigings wat op 7 Augustus 2020 aangebring is.

Vanweë COVID-19 en die daaropvolgende inperking, is bestaansjag eers tydens vlak 3 toegelaat met die publikasie van die gewysigde biodiversiteitsriglyne op 5 Junie 2020 – meer as ’n maand ná die aanvang van die jagseisoen. Die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye het op 22 Junie 2020 in ’n brief aan Saai bevestig dat persone oor provinsiale grense mag reis vir bestaansjagdoeleindes, en het gesê: “Ons is bewus van die feit dat wildplaaseienaars ’n dringende behoefte daaraan het om ’n inkomste te genereer wat broodnodig is vir die suksesvolle voortsetting van die sakeondernemings …”.

“Suid-Afrikaanse wildboere kon nie vanjaar internasionale jagters ontvang nie, wat ’n verlies van omtrent R2 miljard in inkomste tot gevolg gehad het. Om dié rede was ons verlig toe daar aangekondig is dat bestaansjag toegelaat word. Met die bystand wat Saai aan mense gebied het, is daar tussen 5 Junie 2020 en 28 Julie 2020 meer as 18 000 reispermitte vir jagdoeleindes uitgereik, want ons het besef dit is die enigste inkomste wat wildboere vanjaar sou verdien,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Op 28 Julie 2020 het die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye egter tot die uiterste verbasing van alle rolspelers die gewysigde biodiversiteitsriglyne gepubliseer, wat behels het dat bestaansjag nie meer binne die regulasies van vlak 3 toegelaat sal word nie. Barbara Creecy, die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Visserye, het haar besluit op 31 Julie 2020 verduidelik deur te sê jagters mag by hul jagbestemmings oornag indien dit in die provinsie is waar hulle woon.

“Ons data toon dat omtrent 88% van jagters buite hul eie provinsies gaan jag. Die verbod op reis tussen provinsies is dus ’n reuseslag vir ’n bedryf wat ongeveer R12 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra,” voeg Rossouw by.

Saai is oortuig dat die nuutste regulasies die grondwetlike regte van wildboere skend, uiters vaag is en – wat besluitneming sowel as prosedure aanbetref – op ’n irrasionele wyse opgestel is.