fbpx

Saai dagvaar SAPD vir skade wat Limpopo-boer weens betreding gely het

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag ’n dagvaardiging teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitgereik om daarop aan te dring dat die boer, Solly Letsoala, vergoed word vir die skade wat onwettige betreders op sy plaas veroorsaak het. Dit volg nadat Letsoala se klag (van die gevolglike diefstal en skade tot sy eiendom) wat hy in September 2023 by die SAPD aanhangig gemaak het, geen polisie-optrede teen die skuldige partye tot gevolg gehad het nie. Saai het sedertdien vir Letsoala met regshulp gehelp en die SAPD se stilswye het daartoe gelei dat ’n amptelike dagvaardiging nou uitgereik is.

Die dagvaardiging eis dat die SAPD moet instaan vir die meer as R7 miljoen se skade wat onwettige betreders op Letsoala se plaas in Limpopo aangerig het. Dit sal die skade dek wat Letsoala ten opsigte van sy eiendom, implemente en veral sy mango-produksie gely het. Volgens Saai kan die SAPD se versuim om op te tree, ná Letsoala se pleidooie dat die polisie moet ingryp, as nalatig beskou word.

“Saai wil boere help wat met onwettige betredings op hul plaas gekonfronteer word en waar die SAPD, ten spyte van hul grondwetlike plig, versuim om daarteen op te tree,” beklemtoon Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter. Dit is waarom Saai ’n veldtog teen onwettige betreding geloods het. Hierdie veldtog het ten doel om bewusmaking oor die erns van toenemende betredingsvoorvalle te skep, sodat die polisie verantwoordbaar gehou word om hierteen op te tree.

“Betreding is ’n toenemende probleem, terwyl die SAPD ook toenemend misluk om hierteen op te tree. Saai sal aanhou druk uitoefen dat betredingswette opgeskerp en strenger toegepas word,” sê De Jager verder.

Saai het ook reeds in Februarie ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die SAPD gestuur om deursigtigheid oor die groter betredingsprobleem te eis. Saai het onder meer gevra vir verslae oor die aantal gerapporteerde voorvalle van betreding en hoeveel skuldbevindings daar was. Saai sal aanhou druk toepas om hierdie inligting te bekom.

Saai moedig boere aan om hulle in kennis te stel van onwettige betredingsvoorvalle: Staan Saam teen Betredings op Plase – SAAI. Die publiek kan nou ook Saai se video-onderhoude met Letsoala kyk om die erns van die betredingskwessie te begryp.