fbpx

Rolspelers vat hande om landbouontwikkelingsprojek te verbeter

AfriForum en Saai het met Prins Bambindlovu Zulu hande gevat om ’n landbouontwikkelingsprojek by KwaKhangelamankengane, suid van Pongola, te verbeter. Dié rolspelers het besluit om hierdie ontwikkelingsprojek te ondersteun aangesien Prins Bambindlovu en sy span reeds groente suksesvol produseer. Die ontwerp en installering van ’n meer effektiewe drupbesproeiingstelsel is moontlik gemaak deur AfriForum se Pongola-tak se netwerk van kundiges en ondernemings.

Prins Bambindlovu en sy span lewer reeds sedert 2017 landbouprodukte soos aartappels en kool. Vloedbesproeiing, wat meer water gebruik en minder eweredig water versprei, is aanvanklik aangewend. Die projekspan wil graag landbouproduksie verhoog en ook water optimaal benut, en daarom het die rolspelers besluit om daarmee hulp te verleen.

“Ek is opgewonde oor die verbetering in produktiwiteit wat deur die installering van die besproeiingstelsel moontlik gemaak word. Dit is vir my ’n voorreg om saam met my span te werk en daardeur vir gemeenskapslede ’n voorbeeld te stel dat vooruitgang deur harde werk moontlik gemaak word. Ek is baie dankbaar vir AfriForum en Saai se ondersteuning,” sê prins Bambindlovu Zulu, projekleier van die landbouontwikkelingsprojek.

“Vreedsame naasbestaan is moontlik as gemeenskapslede op voetsoolvlak met wedersydse erkenning en respek teenoor mekaar optree. Dit is vir ons as AfriForum se Pongola-tak ’n voorreg om samewerking en resultate op voetsoolvlak deur middel van ons gemeenskapsnetwerk moontlik te maak,” sê Alton Vlok, voorsitter van AfriForum se Pongola-tak.

“As ’n familieboernetwerk is dit vir Saai belangrik dat mense wat graag kommersiële boere wil wees, ondersteun word om te ontwikkel tot volwaardige landbouers wat nie net in staat is om vir hulself welvaart te skep nie, maar om ook by te dra tot voedselsekerheid in die land. Hier is ontwikkelende boere wat graag wil verbeter en daarom is ons hier betrokke,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“AfriForum eer graag ons onderneming van samewerking met die Zoeloe-kultuurgemeenskap wat ons aan wyle koning Goodwill Zwelithini gemaak het. Ons is nie met iets nuut of vreemd hier besig nie, ons voorouers het ook goeie verhoudings met onder andere koning Mpande en koning Dinuzulu gehandhaaf – ons is optimisties oor die goeie verhoudings en samewerking wat ook gevestig gaan word in die tyd van koning Misuzulu,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Opmeting van die grond is deur personeel van die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery gedoen terwyl die besproeiingstelsel ontwerp, verskaf en geïnstalleer is deur Aqua Nyoni, wat sedert 1 Junie by Agrico aangesluit het.