fbpx

Rolspelers neem eerste stappe vir Oos-Kaapse landbouontwikkelingsprojek

AfriForum, die kantoor van iNkosi (opperhoof) Zwelothando Mabandla, Saai en hul landbouwaardeketting ontwikkelingsvennoot, Agri All Africa (AaA), het die eerste stappe geneem vir die daarstelling van ’n gesamentlike landbouontwikkelingsprojek vir die AmaBhele kaJamangile tradisionele gemeenskap. Verteenwoordigers van AfriForum, die kantoor van iNkosi Zwelothando en AaA het verskeie raadplegende vergaderings gehad met rolspelers in die landbousektor in die Oos-Kaap oor die laaste week. Dit volg ná die ondertekening van ’n  wedersydse erkenning en samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando vroeër die jaar wat, onder andere, ten doel het om ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder deur samewerking op die gebied van landbouontwikkeling.

Die Koöperasie, plaaslike kommersiële boere, Hunt SA, Farming God’s Way en SAFPRO is tydens die besoek geraadpleeg. Verteenwoordigers van Die Koöperasie het inligting gedeel oor hul dienste en die landbou-ondernemings wat hulle tans ondersteun in die landelike gebiede van die Oos-Kaap. Kommersiële boere van die Maclear-gebied, wat naby die AmaBhele kaJamangile tradisionele gemeenskap geleë is, is geraadpleeg oor plaaslike toestande en die landboupotensiaal en uitdagings van die gebied. Hunt SA is geraadpleeg oor die daarstelling van moontlike internasionale blootstelling vir die landbou-ontwikkelingsprojek. Farming God’s Way het verduidelik hoe hul die ondersteuning van gemeenskapslede om landbouproduksie met minimale hulpbronne te begin benader, terwyl SAFPRO inligting verskaf het oor die landbouwaardeketting en hul benadering tot die ondersteuning van opkomende boere.

“Ons tradisionele gemeenskappe was histories outonoom en selfvoorsienend. Verskillende stamme het in hul eie ruimte gebly binne eiesoortige waardes en gebruike terwyl hulle mekaar se identiteit gerespekteer het. Die instelling van tradisionele leierskap is die struktuur wat stabiliteit in landelike gebiede verskaf, dié instelling het ook ’n rol om te speel om selfstandigheid en outonomie te laat herleef deur projekte soos hierdie landbou-ontwikkelingsprojek – in samewerking met ander kultuurgemeenskappe en rolspelers,” sê iNkosazana (prinses) Bhelekazi Mabandla, hoof van die Koninklike Diplomatieke Diens van die koninklike Jamangile kaMabandla-familie.

“Daar is verskeie rolspelers wat reeds uitstekende werk doen op die terrein van landbou-ontwikkeling in die Oos-Kaap. Ná interaksie met soveel organisasies en mense wat so ’n positiewe ingesteldheid het en nie net praat nie, maar reeds doen, is ek seker dat ons ook dié beplande landbou-ontwikkelingsprojek met die hulp van ’n netwerk van toegewyde rolspelers suksesvol sal kan uitvoer,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Die grondslag vir die herlewing van suksesvolle boerderybedrywe in die diep landelike gebiede van die Oos-Kaap is die herstel van vertroue in familieboerdery. Dit moet gekoppel wees aan ’n waardekettingontwikkelingsbenadering om hande te vat met die wat kan en wil, met ’n diepe geloof in ons Here se genade en liefde,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“’n Kommersiële boerdery fokus waar plaaslike boere en organisasies soos Die Koöperasie deelneem, gekombineer met ’n positiewe gees van samewerking met tradisionele gemeenskappe en opkomende boere, sal onontbeerlik wees vir die toekomstige sukses van enige landbou-ontwikkeling in die gebied,” sê Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van AaA.

’n Voorlopige bestekverslag en die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding vir die landbou-ontwikkelingsprojek is die beplande uitkomste van die raadplegingsproses en die finalisering daarvan word teen einde Julie verwag.

Die besoek aan die provinsie is afgesluit met ’n vergadering met verteenwoordigers van die Ngcolorha-gemeenskap, naby Tsolo, oor die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar met landbouproduksie en -ontwikkeling.